|

Erfenisbewaring: Pretorianer voeg die daad by die woord

Erfenisbewaring in Pretoria het al sinoniem met Quentin Meyer geword.

Meer as ’n dekade gelede het Meyer van Pretoria-Noord besef as jy jou erfenis vir die nageslagte wil bewaar, sal jy self moet moue oprol.

Hy onthou dat sy ouers hom as kind gereeld na monumente en erfenisterreine geneem het. “Ons was eendag op Kerkplein en die beeld van pres. Paul Kruger en die omgewing het maar sleg gelyk. Toe ek dit vir iemand vertel, het hy gesê maar hoekom doen jy nie self iets daaraan nie.

“Ek het besef dit is presies wat moet gebeur. Die gogga het my behoorlik gebyt en sedertdien is ek baie betrokke by die skoonmaak van standbeelde, begraafplase en monumente. In die begin het ek uit my eie sak vir alles betaal. Deesdae help ander instansies soos AfriForum, die FAK en ander borge my met van die projekte.”

Meyer, lede van die FAK-Moot-Kultuurnetwerk, MagaliesMoot Volkspele-laer, LEKKER FM, vrywilligers en selfs nasate van Pretoria se volksleiers, naamlik Andries Pretorius en sy seun, Marthinus Wessel (MW), het juis ook die afgelope naweek die Pretorius-standbeelde voor die Pretoriase stadsaal skoongemaak ter viering van Andries Pretorius se 223ste verjaarsdag. Andries Pretorius is die vader van Pretoria en die hoofstad is ook na hom vernoem. Sy seun, MW, was die eerste president van die ZAR.

Andries Pretorius is op 27 November 1798 in Graaff-Reinet gebore. Hy is op 23 Julie 1853 op Grootplaas, naby Pretoria, oorlede.

Die beeldhouer Coert Steynberg het beide standbeelde van Andries Pretorius, fier op ’n perd, en dié van MW Pretorius, ’n hele ent voor hom, gemaak. Die beeldegroep is op 21 Oktober 1955 ter viering van Pretoria se eeufeesviering onthul.

Barry Müller, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in Gauteng, het tydens die skoonmaakaksie ’n ere-toekenning aan Meyer oorhandig.

“My boodskap is eenvoudig. Mense moet ophou om agter hul selfone en rekenaars te sit en kla oor hul erfenis wat agteruit gaan. Dis jóú erfenis. Jy kan nie verwag dat enigiemand anders dit vir jou moet skoonmaak en onderhou nie. Ons moet dit self doen. As ons dit nie doen nie, sal niks vir ons nageslag oorbly nie.”

AfriForum Jeug het ook onlangs ’n uitdaging van Meyer aanvaar om hom te help om ’n erfenis projek aan te pak. AfriForum Jeug het ’n bedrag van R 5 500 aan hom geskenk om die grafte van dr. Herman Dirk van Broekhuizen en Elsje Francina van Broekhuizen in die Rebeccastraat-begraafplaas in Pretoria-Wes te herstel.

Dr. Herman Dirk van Broekhuizen was een van die vroegste spelers in die Suid-Afrikaanse nasionale rugbyspan. Elsje Francina van Broekhuizen (née Eloff), sy vrou, was die kleindogter van Paul Kruger.

Meyer sê hy werk graag saam met enige instansie of organisasie wat sy passie vir die geskiedenis en erfenisbewaring deel. “My boodskap is eenvoudig. Mense moet ophou om agter hul selfone en rekenaars te sit en kla oor hul erfenis wat agteruit gaan. Dis jóú erfenis. Jy kan nie verwag dat enigiemand anders dit vir jou moet skoonmaak en onderhou nie. Ons moet dit self doen. As ons dit nie doen nie, sal niks vir ons nageslag oorbly nie.”

Soortgelyke plasings