|

Ernstige en onnodige vertragings kenmerk Meyiwa-verhoor

Die familielede van Senzo Meyiwa, die vermoorde voormalige kaptein van die Bafana Bafana-sokkerspan, moes vandeesweek vir die soveelste keer gadeslaan en aanhoor hoe daar letterlik in dié uitgerekte verhoor voortgeploeter word.

Boonop het adv. Malesela Teffo, wat vier van die beskuldigdes in die saak verteenwoordig, hom gister ná ’n heeldag se twyfelagtige optrede in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria, skielik aan die saak onttrek en aangevoer hy kan nie meer die teistering deur die regering en hof verduur nie. Hy beweer een of ander aksie word teen hom gevoer wat in die kantoor van die pres. Cyril Ramaphosa bedink is.

Gister se hofverrigtinge is gekenmerk aan verskeie aansoeke wat geen meriete het nie.

Adv. Gerrie Nel

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het dit soos volg opgesom:

Die eerste aansoek was oor die kwessie van jurisdiksie van die hof. Volgens Nel het die aansoek ingevolge artikel 110 van die strafproseswet absoluut geen meriete nie en het die verdediging daarvan afgesien.

Die tweede aansoek is gebring ingevolge artikel 87 van die strafproseswet om nadere besonderhede te bekom van die brief wat Teffo wou hê as getuienis ingelees moes word. Ook dié aansoek was sonder enige meriete aangesien die besonderhede net beskikbaar is vir ’n beskuldigde voor getuienis gelei is en in die saak is getuienis reeds gelei.

Daar was ’n verdere aansoek gerig aan die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging (NDOV) in terme van artikel 6 (B) van die strafproseswet wat handel oor die staking van vervolging. Nel wys daarop dat die NDOV geen jurisdiksie in terme van die betrokke artikel van die wet het nie en gevolglik nie ’n besluit hieroor kan neem nie.

Teffo het nóg ’n aansoek gebring dat dit in lewensbelang is dat die hof moet luister na Mthobisi Prince Mncube (beskuldigde 3) oor die haglike omstandighede waarin hy in die Kgosi Mampuru-gevangenis in Pretoria aangehou word.

Die klagtes het daarop neergekom dat hy vir 23 uur per dag in ’n enkelsel aangehou word, net een uur tyd het om te oefen en nie toegang het tot ’n radio of leesmateriaal nie.  Volgens Nel het niks hiervan op ’n bedreiging van sy lewe neergekom nie en is die hof se tyd eintlik daardeur gemors. “Misbruike in gevangenisse moet deur die regte kanale en strukture aangespreek word, maar nie voor ’n verhoorhof nie.”

Nel meen dit is teleurstellend en verontrustend dat daar ná maande nog nie enige wesenlike vordering in die hofsaak is nie.

Nog nie ’n enkele getuie se getuienis is al afgehandel nie.

Die verwagting is dat dit ook in die toekoms nog ’n baie lang en uitgerekte proses gaan wees. Die beskuldigdes moet nou nuwe regsverteenwoordiging kry, wat nie noodwendig ’n uitgemaakte saak is nie omdat hulle regshulp vroeër van die hand gewys het. Die nuwe verdediging sal dan geleentheid moet kry om op hoogte van die saak en getuienis te kom en om met hul kliënte te konsulteer.

“Ons hoop regtig dat ons by ’n punt sal kom waar daar uiteindelik op die meriete van die saak gefokus kan word.”

Nel wys daarop dat hoewel die staatsadvokaat van meet af duidelik uiteengesit het hoe hy die saak sal benader en wie wanneer geroep sal word, word die saak gekompliseer deur ’n verweer van ’n sameswering deur verskeie mense om die vier beskuldigdes valslik te inkrimineer. “Baie mense is by die sameswering betrokke en dit is baie moeilik om die verweer te bewys.

“Gegewe dié situasie is daar die familie wat sedert 2014 op geregtigheid wag. Hulle wil net klarigheid en antwoorde hê oor presies wat gebeur het en stel nie in die sameswerings belang nie.”

Die saak sal na verwagting in Augustus hervat.

Soortgelyke plasings