AfriForum kap regering oor aandeel in listeriosesterftes


Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag die regering vermaan om medeverantwoordelikheid vir die uitbreking van listeriose en die gevolglike sterftes te aanvaar.

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum, sê dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, moenie slegs die vinger na voedselmaatskappye wys nie. “Hy tree nou op asof sy departement onskuldig is deur voedselmaatskappye te laat straf en slagoffers se families met regsoptrede by te staan, terwyl hierdie krisis waarskynlik deur gebrekkige regeringsoptrede ontstaan het en beslis daardeur vererger is.”

Dit is die grootste uitbreking van listeriose in wêreldgeskiedenis.

“In ander lande is die probleem hokgeslaan lánk voordat bykans 200 mense dood is. Hoekom is die bron van dié uitbreking nie vinniger opgespoor nie? Waar was die gesondheidsinspekteurs wat hul werk moes doen en waarom het die munisipaliteite nie hul funksies na behore verrig nie? Dít is vrae wat gevra moet word omdat die krisis nog nie werklik onder beheer is nie,” gaan Brink voort.

Die SAKP en EFF onthef terselfdertyd die regering van alle blaam terwyl hulle die voedselbedryf as die enigste skuldiges wil uitkryt en verder wil laat reguleer. Hulle wens die staat selfs geluk met die hantering van die krisis en bestraf die privaat voedselbedryf, terwyl baie meer mense al weens nalatigheid of doelbewuste optrede in staatshospitale en van besmette munisipale water gesterf het.
Brink sê die regering het steeds geen verdere tasbare stappe aangekondig of gedoen om listeriose verder te beperk sedert die Enterprise-fabriek in Polokwane as die moontlike bron geïdentifiseer is nie.

“Dr. Francois Mellett, ’n onafhanklike vleiskundige van Stellenbosch, het juis aan Rapport gesê dat die staat se huidige oorsekerheid nog verkeerd bewys gaan word. Kenners het ook aan die koerant gesê dat hulle nie glo die Enterprise-fabriek was so onhigiënies dat dit die enigste of selfs grootste bron van listeriose kon wees nie.”

AfriForum is besig om ’n verslag oor listeriose saam te stel om die krisis behoorlik te ontleed. “Ons sal onafhanklike kenners in hierdie verband raadpleeg. Hierdie kwessie word tans oorvereenvoudig en ons wil by die waarheid uitkom,” sluit Brink af.

Soortgelyke plasings