|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

Die Konstitusionele Hof het Jacob Zuma se verlof tot appèl met koste van die hand gewys en dus bevestig dat die mediese parool wat Arthur Fraser aan Zuma toegestaan het, onwettig was. AfriForum en ander het in 2021 ’n dringende hofaansoek teen ses respondente beteken in die saak oor Zuma se vrylating.

AfriForum verwelkom die arrestasie van verdagtes in die onlangse voorvalle waar meer as 20 vragmotors aan die brand gesteek is. AfriForum moedig mense ook aan om enige ongerymdhede of gewelddadige optrede by vragmotors aan te meld deur 066 142 8437 te skakel.

Die organisasie het verder ’n hofaansoek gebring om die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) se besluit om Skaak SA te skors ter syde te stel. Saskok het Skaak SA in April geskors sonder enige konkrete redes.

Heelwat AfriForum-buurtwagte is die afgelope tyd gestig of het nuwe veiligheidstoerusting ontvang. In die Oos- en Wes-Kaap is agt nuwe buurtwagte die afgelope paar maande gestig: die Helderbergkom-buurtwag, Hopefield-plaaswag, Vanrhynsdorp-buurtwag, Paarl-Noord-buurtwag, Midbrak-buurtwag, Pastorie-buurtwag, Durbanville-buurtwag en Winterberg-plaaswag in Uitenhage. Die Winterberg-, asook Durbanville-buurtwag het ook toerusting ontvang wat hulle doeltreffend tydens patrollies gaan beveilig.

Die Walker Drive-buurtwag in Gqeberha het ongeveer een ton teer gebruik om verskeie slaggate in Sherwood op te vul nadat verskeie motors se bande beskadig is.

AfriForum se Fochville-tak het in samewerking met die gemeenskap die Fochville Burgersentrum skoongemaak deur die gras te sny, bome te snoei, molshope plat te stoot en die parkeerterrein op te ruim. Vyf vragte tuinvullis en rommel is met ’n bakkie en ’n sleepwa weggery.

Die tak in Springbok het weer aan al Huis Namakwaland se inwoners en personeel drie maande se immuunversterkers voorsien.

In Middelburg het die plaaslik tak saam met Mejuffrou Mpumalanga Toerismekoningin (Miss Mpumalanga Tourism Queen) ’n projek by die dorp se Dierebeskermingsvereniging (DBV) van stapel gestuur om die gebou op te knap.

AfriForum se Standerton-tak het verskeie projekte saam met die Lekwa Clean Up Crew voltooi. Hulle het onder meer rondom die Standerton-hospitaal opgeruim, takke in Paarlstraat weggery en gras is op die skougronde as voorbrand gesny. Hulle het ook twee verkeersligte herstel.

Die tak in Bethal het oor drie dae ’n slaggatprojek om Laerskool H.M. Swart voltooi. Hulle het danksy ’n borg van Kukhona Group 250 sakke teer gebruik om die pad veiliger te maak.

AfriForum het ook ’n brief aan Rand Water gestuur oor die gebrekkige watervoorsiening aan dorpe in Mpumalanga nadat die organisasie bewus geword het dat inwoners van hoogliggende gebiede in die Govan Mbeki- en Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit sonder water was.

Soortgelyke plasings