|

ESKOM TREK BESLUIT TERUG OM KLERKSDORP SE KRAG AF TE SNY

Eskom het op 4 November 2020 in ’n skrywe aan AfriForum bevestig dat hulle die besluit teruggetrek het om die Matlosana-munisipaliteit se krag af te sny. Dit volg nadat AfriForum op 30 Oktober ’n brief aan sowel Eskom as dié munisipaliteit gestuur het waarin die burgerregteorganisasie gedreig het om die proses ongrondwetlik te laat verklaar indien hulle daarmee sou voortgaan.

Eskom het op 29 Oktober ’n kennisgewing aan die Matlosana-munisipaliteit gestuur om hulle in kennis te stel dat die krag afgesny gaan word weens die munisipaliteit se versuim om ’n vorige ooreenkoms na te kom om agterstallige skuld te betaal.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof van Gemeenskapstrukture vir die sentraalstreek, is die proses wat gevolg word ’n growwe skending van inwoners se grondwetlike regte. “Die gemeenskap in die Matlosana munisipale gebied, wat Klerksdorp, Stilfontein, Orkney en Hartbeesfontein insluit, sê hul krag kan nie opgeskort word omdat die munisipaliteit versuim het om Eskom te betaal nie. Gereelde betalers word dan gestraf vir die munisipaliteit se wanbesteding en nalatigheid, wat onaanvaarbaar is.”

Grobbelaar sê dat hy die frustrasie verstaan wat Eskom ervaar en dat ’n oplossing gevind moet word, maar dié oplossing kan nie ten koste wees van mense wat hul rekeninge elke maand getrou betaal nie. “Daar moet na ander maniere gekyk word om munisipaliteite te dwing om eerstens die maandelikse kragrekening aan Eskom te betaal en tweedens die agterstallige skuld terug te betaal sonder dat die gemeenskap daaronder hoef te ly. AfriForum sal saam met Eskom werk om voorstelle op die tafel te sit om moontlike oplossings te kry.”

AfriForum sal die saak deurlopend moniteer en saam met die instansies werk om toe te sien dat daar wel ’n oplossing gevind word sonder om die gemeenskap te benadeel.

Soortgelyke plasings