| |

AfriForum gaan Senzo Meyiwa se familie verteenwoordig

AfriForum en die familie van die ontslape sokkerspeler Senzo Meyiwa het vandag tydens ’n mediakonferensie aangekondig dat dié burgerregteorganisasie die Meyiwa-familie gaan verteenwoordig. Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, is aangestel as die Meyiwa-familie se advokaat in die moordondersoek na die dood van Senzo.

Dit volg nadat die voormalige Bafana Bafana-kaptein vyf jaar gelede op 27-jarige ouderdom noodlottig in ’n huis in Vosloorus geskiet is en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) tot op hede geen vervolging ingestel het nie.

“Dit is belangrik dat AfriForum by sake soos hierdie betrokke raak – dit is in die hele land se belang dat Suid-Afrika se strafregstelsel na behore funksioneer. AfriForum is ’n teenwig vir staatsverval en dit is ons plig as burgerregtewaghond om toe te sien dat die land se strafregstelsel nie in duie stort nie,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

“Die Meyiwa-familie het AfriForum om hulp genader om te help om die moord op ons geliefde Senzo Meyiwa op te los. Met die hulp van AfriForum, wil ons Senzo se nagedagtenis eer deur te verseker dat geregtigheid geskied en sy moordenaars tot verantwoording gebring word. Die Meyiwa-familie is trots om met ’n organisasie verbind te word wat die waagmoed het om saam met ons standpunt in te neem in die stryd om geregtigheid in hierdie saak. Ons doen dus ’n beroep op alle billike Suid-Afrikaners van alle rasse om saam met ons te staan en hierdie ongeregtigheid te beveg,” sê Sifiso Meyiwa, Senzo Meyiwa se broer.

AfriForum en die Meyiwa-familie doen ’n beroep op enigiemand met inligting oor die saak om ’n e-pos na onsvervolg@afriforum.co.za te stuur.

Soortgelyke plasings