|

Eskom veg verwoed om inligting oor kontrakte stil te hou

Die Gautengse Hooggeregshof in Pretoria het vandag uitspraak voorbehou in Eskom se aansoek om verlof tot appèl in die Eskom-kontraksaak waar die hof in Maart vanjaar in AfriForum se guns beslis het. Ingevolge daardie uitspraak moes Eskom binne tien dae vanaf die datum van die hofbevel inligting rakende sy bestaande steenkool- en dieselkontrakte aan dié burgerregteorganisasie voorsien.

AfriForum se hofgeding met Eskom volg op ’n aansoek wat die burgerregteorganisasie reeds in Julie 2022 kragtens die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan Eskom gerig het. AfriForum vermoed dat die kontrakte inligting vervat wat moontlik onreëlmatighede en korrupsie by die kragvoorsiener aan die lig kan bring.

In Eskom se aansoek om verlof tot appèl het die kragvoorsiener onder meer aangevoer dat die volledige besonderhede van sy steenkool- en dieselkontrakte vertroulik gehou moet word.

Charné Mostert, veldtogbeampte by AfriForum, beklemtoon egter dat die toegang tot alle inligting oor dié kontrakte noodsaaklik is vir ’n omvattende ondersoek. “Bewerings van ongerymdhede en korrupsie by Eskom is niks nuuts nie. Inteendeel, die Zondo-kommissie se verslag oor die ondersoek na bewerings van staatskaping, korrupsie en bedrog in die openbare sektor in 2022 het talle bewyse van korrupsie en onreëlmatige uitgawes in Eskom blootgelê. AfriForum is gerat om die kontrakte, waaroor daar nou talle vrae bestaan oor die reëlmatigheid daarvan, te fynkam,” verduidelik Mostert.

Eskom se voortgesette pogings om die inligting geheim te hou, herbevestig die kragvoorsiener se taktiek van geheimhouding en om alles in die stryd te werp om te keer dat die volledige inligting oor die betrokke kontrakte openbaar gemaak word. Siende dat Eskom deur belastingbetalers gefinansier word, is die Suid-Afrikaanse publiek geregtig op die bekendmaking van dié inligting.

Volgens Mostert is dit uit vandag se verrigtinge duidelik dat Eskom gereed is om die appèl enduit te voer. “Tog sal Eskom se desperate pogings om die inligting te weerhou, AfriForum nie in sy doel stuit om die volle waarheid oor dié kontrakte te kry nie. Dit het tyd geword vir Eskom om verantwoordelikheid te neem.”  

Soortgelyke plasings