|

Kroonstad-tak bederf inwoners van Residentia Arboretum op Valentynsdag

Die AfriForum-tak in Kroonstad het op 14 Februarie by die inwoners van Residentia Arboretum, ’n sentrum vir bejaardes, gaan kuier en elkeen bederf met ’n sjokolade.

Anci en Anthony Duffin, saam met Carel Steyn het die inwoners en taklede vermaak met hul musiek. Daarna het almal saam ’n heerlike middagete geniet en saam gekuier.

“Dit is belangrik dat ons moeite doen met ons bejaardes. Hulle het ons help vorm tot die mense wat ons vandag is en ons moet ons deel doen om te wys hoe dankbaar ons is daarvoor,” sê Gabrie Grobler, AfriForum se takvoorsitter in Kroonstad. “Dit was ook vir ons ’n voorreg om vir tannie Anna Serfontein te ontmoet, sy is 101 jaar oud en woon op die perseel in ’n selfsorgeenheid.”

“Ons wil graag vir Marina van der Westhuizen en haar personeel baie dankie sê dat hulle die inwoners van die sentrum so mooi versorg en alles so seepglad laat verloop op hierdie netjiese perseel. Ons sien uit daarna om weer hier te kom kuier,” sluit Grobler af.

Sluit vandag by AfriForum se tak in Kroonstad aan om ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te help maak. Daar is ook geleenthede vir gemeenskapslede om betrokke te raak by aksies wat die tak hou – meer inligting is op AfriForum Kroonstad se Facebook-blad beskikbaar. SMS “Kroonstad” na 45344.

Soortgelyke plasings