|

Keimoes se waterwiel weer op sy plek ná buurtwaglede ingryp

Keimoes se bekende waterwiel is vroeg Sondagoggend (31 Maart) in die kanaal gevind nadat die wiel aan die een kant van die stellasie losgekom het. Lede van AfriForum se Groot-oog-buurtwag het dit opgemerk terwyl hulle om 03:15 patrolleer het.

Al agt boute aan die een kant van die waterwiel het uitgeval en aan die ander kant was die boute ook los. Kobus Pool, een van die buurtwaglede wat op die waterwiel afgekom het, het besluit om self werk te maak daarvan om dié waterwiel weer op sy plek te kry. Teen 10:00 Sondagoggend was die waterwiel op sy plek.

“Die waterwiel is ’n bekende struktuur in Keimoes en dit is sleg dat niemand toegesien het dat die boute in die eerste plek reg vasgedraai was nie. Ek wil ook graag vir Otto Spangenberg bedank wat die hulp van sy personeel ingeroep het om te help om die waterwiel weer vas te sit,” sê Pool.

Die Keimoes waterwiel is ’n historiese landmerk wat in 1978 tot ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar is. Die inwoners van dié dorp beskou weliswaar hierdie waterwiel as ’n belangrike deel van hulle dorp en vir talle toeriste is dié waterwiel juis die besienswaardigheid wat hulle na Keimoes toe lok.

Soortgelyke plasings