|

Fochville-tak maak areas om substasies skoon

AfriForum se Fochville-tak het op 2 en 3 Junie saam met die Fochville-gemeenskap en die Fochville-gemeenskapsforum die areas rondom Fochville se hoofsubstasie skoongemaak as deel van ’n beveiligingsaksie. Dit volg nadat die dorp vir die afgelope drie weke onder ’n elektrisiteitskrisis gebuk gaan. Een substasie het ontplof en drie ander is gevandaliseer.

Misdadigers het in die oorgroeide areas wegkruip en substasies gedurende beurtkrag geteiken. Bome is verwyder en gras is gesny in ’n radius van ongeveer 50 meter om die substasie. Hierdie skoonmaak-aksie maak dit nou makliker vir patrolleerders om boosdoeners raak te sien.

Teen die einde van hierdie week behoort die gemeenskap voldoende fondse ingesamel te hê om ’n kamera- asook ’n rugsteunstelsel te installeer om die hooftransformator en voerkabels te beskerm. Hierdie stelsel sal dit vir buurtwaglede moontlik maak om te sien wat gebeur en dadelik die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) asook die munisipaliteit in kennis stel.

Verskeie ondernemings was vir drie weke sonder krag en twee ondernemings moes hul deure sluit wat 15 werkers werkloos laat. Meer as ’n 100 huise in een woonbuurt was vir twee weke sonder krag, of hulp van die stadsraad. ’n Ander buurt is tans reeds agt dae in die donker.

“Die gevolge hiervan strek wyer as net die gebrek aan elektrisiteit, baie inwoners het nie meer kos, of fondse om kos te koop nie. Leerders wat eksamen skryf moet noodgedwonge by kerslig probeer leer. Onverwagte gevolge soos moedeloosheid en depressie het ook nou by die inwoners begin kop uitsteek. Daarom het AfriForum se Fochville-tak dié week begin om olielampe te koop en uit te deel. Die tak samel selfs tans nie-bederfbare kos in om te versprei en brandstof vir kragopwekkers word ook geskenk. Ons is in proses om ’n ondersteuningsgroep te stig om die emosionele aspekte saam met verskeie kerke en ander organisasies te takel. Die idee is om diegene wat met moedeloosheid en depressie sukkel daagliks te kontak, te ondersteun en ’n ruimte skep waar hulle self vir hulp kan vra,” sê Stephanus Blignault, distrikskoördineerder vir die Wes-Rand.

“Dit is belangrik dat die gemeenskap saamstaan om die probleem op te los en misdaad hok te slaan. Dis munisipaliteit moet ook onder druk geplaas word om hul verantwoordelikheid na te kom en die infrastruktuur op te gradeer,” sluit Blignault af.

Soortgelyke plasings