|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum se takke het ’n besige week agter die rug met deelname aan die nasionale massapatrollie en verskeie ander projekte.

AfriForum se 169 buurt- en plaaswagstrukture het Vrydagaand (13 Oktober) kragte saamgesnoer en altesaam 77 109 km gepatrolleer tydens vanjaar se derde nasionale massapatrollie. Dié aksie vorm deel van AfriForum se strategie om gemeenskappe op te lei en veiligheid op te skerp. Die meerderheid van AfriForum se buurtwagte in Pretoria en aan die Oos-Rand het by die Voortrekkermonument bymekaar gekom om hul patrollies af te skop. Die monument is ook groen verlig om slagoffers van plaasaanvalle te gedenk.

Verteenwoordigers van AfriForum het die openbare verhore oor die beoogde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) bygewoon en redes verskaf waarom dié wetgewing verwerp moet word. AfriForum is bekommerd oor die gebrek aan besonderhede oor die beoogde wetgewing. Dit word as onrealisties, onprakties en dus as onuitvoerbaar beskou.

AfriForum het ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) by die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking (DIRCO) ingedien waarin omvattende rekords versoek word van alle skenkings wat die Suid-Afrikaanse regering oor die afgelope 20 jaar aan Kuba gemaak het. Dit het aan die lig gekom dat die Departement van Verdediging R120 miljoen aan mediese opleiding vir studente in Kuba vermors het. AfriForum het reeds die regering se plan om R50 miljoen aan Kuba te skenk, gevries.

Charné Mostert, veldtogbeampte by AfriForum

Ná ingryping deur AfriForum se privaatvervolgingseenheid het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) stappe gedoen om te verseker dat geregtigheid geskied in die beweerde moord op Hilton Pretorius. Pretorius is ná 18 dae in die hospitaal oorlede nadat hy in September glo deur Werniech Botha buite ’n kroeg in Klerksdorp met die vuis geslaan is. Die eenheid tree namens die oorledene se ma Linda May op.

Adv. Gerrie Nel, hoof van die AfriForum privaatvervolgingseenheid

AfriForum se teenboeliespan het die afgelope week verskeie skole besoek om leerders, onderwysers en ouers te bemagtig om boeliegedrag hok te slaan. Laerskool Witpoort, oos van Pretoria, en drie skole in Vereeniging naamlik Laerskool Drie Riviere, Laerskool Risiville en Laerskool Suikerbos is onder meer besoek.

In Ermelo het die AfriForum-tak die hof genader om ’n strukturele interdik teen die Msukaligwa Plaaslike Munisipaliteit te bekom. Inwoners van die dorp sukkel al geruime tyd met gebrekkige dienslewering. AfriForum eis onder meer dat paaie herstel word, die rioolstelsel behoorlik onderhou word en probleme met kragonderbrekings aandag geniet.

AfriForum en die Zoeloe-koninkryk se ideesentrum Indonsa Yesizwe het vandeesweek die nalatenskap van koning Dinuzulu kaCetshwayo gedenk deur ’n begraafplaas, waar ’n aantal van sy direkte familielede begrawe is, saam skoon te maak. Personeel van die KwaZulu-Natal Museum en die KwaZulu-Natal Argief het ook aan dié projek op die plaas Rietfontein, in die Middelburg-distrik, Mpumalanga, deelgeneem. Koning Dinuzulu het op 18 Oktober 1913 sy laaste asem op dié plaas uitgeblaas.

V.l.n.r.: Sibiniso Gcumisa (KwaZulu-Natal Museum), Sakhile Maphumulo (KwaZulu-Natal Museum), Barend Uys (AfriForum), Inyosi Mdletshe (verteenwoordiger van die Zoeloe- koninklike familie) en prof. Musa Xulu (Indonsa Yesizwe).

In Oudtshoorn het die AfriForum-tak as deel van die #OnsDorp-projek 12 bome by ’n skool vir gestremdes geplant en by die Luscombe Parkie skoongemaak.

Soortgelyke plasings