|

Akademia-mediasentrum se boekversameling groei met ruim skenking

’n Skenking van ’n boekversameling ter waarde van nagenoeg R1,5 miljoen van prof. Edith Raidt (91) het onlangs die Akademia-mediasentrum se versameling met ongeveer 800 publikasies laat groei. Hierdie skenking is ’n verdere bousteen om die baan te weg vir Akademia om as wêreldklas- Afrikaanse universiteit te groei.

Die sentrum, wat reeds die versamelde werke van onder meer Joost van den Vondel, N. P. van Wyk Louw en dr. Natie van Vuuren huisves, het ’n verdere hupstoot gekry met dié uitsonderlike skenking van Raidt.

Raidt word wêreldwyd erken as een van die mees gerekende Afrikaanse taalkundiges nóg. Sy het talle boeke en meer as 80 artikels geskryf. Sy het ook as studieleier vir verskeie voor- en nagraadse studente opgetree en sy het haar gevestig as ’n vooraanstaande leier in haar veld. Dis veral Raidt se navorsing en haar standaardpublikasies oor die geskiedenis van Afrikaans wat aan haar hierdie erkenning besorg.

Lianda Coetzer, Akademia se bibliotekaris, beskryf dié skenking as ’n “ongelooflike bruidskat”. Sy verduidelik dat met die toevoeging van die BA-kwalifikasie (Taalstudie) wat vir Akademia in die vooruitsig gestel word, hierdie uitgebreide versameling van onskatbare belang is. Die versameling sluit standaardbronne oor die Afrikaanse taalkunde, en in die besonder van die ouer bronne waarin die taal se ontwikkeling weerspieël word, in.

“Dit is vir Akademia ’n riem onder die hart dat iemand van Raidt se statuur haar versameling aan ons toevertrou. Dit dui op haar geloof in wat die instelling namens Afrikaans kan vermag,” sê Coetzer.

Raidt het in 1954 as Duitssprekende na Suid-Afrika verhuis om onderwys te gee. Sy het egter in die 40 jaar daarna haar eerder as besondere kundige van Afrikaans gevestig. Dit was Duits se verlies en Afrikaans se wins.

Sy het haar aanvanklik toegespits op Afrikaanse letterkunde, maar later onder leiding van die taalhistorikus prof. J. du P. Scholtz haar fokus na die historiese Afrikaanse taalkunde verskuif. Dit het in haar gesaghebbende boeke oor herkoms en ontwikkeling van Afrikaans na vore gekom. Raidt se boek Afrikaans en sy Europese verlede was vir geslagte lank studente se handboek oor die herkoms van Afrikaans.

Prof. Edith Raidt

Behalwe die akademiese poste wat Raidt by die Universiteit van Kaapstad en die Universiteit van die Witwatersrand gevul het, was sy ook vir 25 jaar die redakteur van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Tydskrif vir Geesteswetenskappe.

Raidt sê van Akademia dat dit ’n trotse Afrikaanse instelling met ’n passie vir die voortbestaan van die taal is. Die versameling van boeke wat sy aan Akademia geskenk het, kan by die mediasentrum op die Centurion-kampus deur Akademia-studente en -personeel bestudeer word.

Soortgelyke plasings