|

AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek Laerskool Wonderboom as deel van Nasionale-boelievoorkomingsmaand

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 18 en 19 Oktober 2023 by Laerskool Wonderboom besoek afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Boelies is oral en dit moenie so wees nie. Kinders wat boelie moet besef dat hulle gedrag ’n impak op ander het. Dit is vir ons belangrik dat kinders wat geboelie word besef dat daar nie fout is met hulle nie en dat boeliegedrag nooit regverdig kan word nie. Een van die grootste struikelblokke vir slagoffers is dat hulle dink dat hulle meer geboelie sal word indien hulle dit aanmeld maar dit moet aangemeld word en ons wil hê hulle moet weet dat ons hulle beste belange op die hart dra,” sê Carléne Wabeke, bemarker by Laerskool Wonderboom.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind, met ander woorde om boeliebestand te wees. Kinders word ook geleer om te kan onderskei tussen afknouery en konflik. Die gevare en gevolge van sosiale media en kuberafknouery is van kardinale belang en word ook met die leerders bespreek,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

Vir meer inligting rondom AfriForum se teenboelieveldtog besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings