|

Joernaliste en tradisionele media speel ’n belangrike rol in ’n verkiesingsjaar

Akademia se Departement Tale en Kultuurwetenskappe se tweede jaarlikse Joernalistieksimposium is gister by dié tersiêre inrigting se Leriba-kampus aangebied. Vanjaar se tema was Die rol van die media tydens verkiesings. Verskeie kenners vanuit die professionele en akademiese wêreld het die geleentheid gehad om onderwerpe insluitend kunsmatige intelligensie (KI), fopnuus en die 2024-politieke landskap te bespreek.

Dr. Pieter Mulder, voormalige leier van die VF Plus, het in sy praatjie gesê daar is reeds in 1996 voorsiening gemaak vir ’n koalisieregering. “’n Koalisieregering kan beslis in ’n gesonde demokrasie werk. Maar om gesonde demokrasie te hê, moet kiesers ingelig wees en dit is waar die media ’n belangrike rol speel om wel seker te maak dat die publiek ingelig is.”

Mulder het kritiek teenoor die rol van veral Naspers in die vorige bedeling uitgespreek omdat hulle nie ’n gesonde afstand van die regerende Nasionale Party gehandhaaf het nie. Hy het ook gesê ’n demokrasie kan getoets word aan die onderlinge verdraagsaamheid onder partye en tot hoe ’n mate probleme met debatte in die parlement opgelos kan word.

Gert van der Westhuizen, politieke redakteur van Media24, het oor die gevare van fopnuus en “geheime meningspeilings” gepraat.

“Volgens navorsing vertrou meer as 50% van Suid-Afrikaners wat hulle in die media lees. Dis ’n hoë syfer gemeet aan die res van die wêreld. Dit beteken egter nie die media kan op hul louere rus nie, want daar gaan in aanloop tot die verkiesing ’n skerp toename in fopnuus wees. Dit is die media se plig om te help om fopnuus te identifiseer.”

Hy het ook verduidelik hoe “geheime meningspeilings” deur verskeie politieke partye aangewend word om kiesers te beïnvloed om anders te stem as wat hulle sou. Daarbenewens meen hy ook joernaliste moet met die eksponensiële groei van sosialemediaplatforms op alle fronte versigtig wees en feite nagaan. Een van die grootste nadele van sosiale media is hoe dit verwarring kan skep.

Verskeie van die ander sprekers het by Van der Westhuizen aangesluit en die belangrikheid van die media se rol om die publiek ingelig te hou, beklemtoon. Daarmee saam moet die media ook kiesers opvoed sodat hulle ingeligte besluite kan neem wanneer hulle hul kruisies in die verkiesing trek.

Volgens prof. Basie von Solms, navorsingsprofessor in kubersekuriteit aan die Universiteit van Johannesburg se Sentrum vir Kubersekuriteit, is vanjaar se verkiesing die eerste een in Suid-Afrika se geskiedenis waar KI ter sprake is en derhalwe ’n groot invloed op die uitslag kan hê.

“Dit gaan al hoe moeiliker word om tussen iets wat deur mense of KI geskep is te onderskei. Staatsdepartemente is al gekraak en dit sal weer gebeur. Misinformasie en disinformasie kom al hoe meer voor en dit beteken ’n mens kan nie alles glo wat jy sien nie.”

* Akademia het in 2021 die eerste BA Kommunikasie en Joernalistiek-studente ingeneem. Daar is tans meer as 70 studente wat dié graad swot. ‘n BA-graad in Taalstudies sal ook van volgende jaar af aangebied word.

Soortgelyke plasings