|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

Alhoewel AfriForum se takke landwyd gereeld inspring om munisipale kwessies te pak en om hulle omgewings netjies en skoon te maak, gebeur dit soms dat munisipale amptenare dié takvrywilligers verhoed om skoon te maak of slaggate te vul. Dit was vandeesweek weer die geval in Secunda toe die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit vrywilligers gekeer het wat die plaaslike begraafplaas skoongemaak het. Dit het voorheen ook in Pretoria gebeur en juis daarom het AfriForum en die Tshwane-metro ’n memorandum van verstandhouding onderteken. Dié memorandum bepaal dat uitdagings ten opsigte van die beveiliging en beskerming van eiendom en die omgewing in die stad se gemeenskappe saam getakel sal word.

AfriForum het vandeesweek nog ’n mondelinge voorlegging oor die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela-wet) voor die Staande Komitee oor Onderwys en Tegnologie, Sport, Kuns en Kultuur gedoen. Volgens die burgerregteorganisasie moet die wetsontwerp verwerp word en moet ’n nuwe wysigingswetsontwerp opgestel word wat grondwetlik belyn en regverdig is. Die AfriForum-takke in George en Mosselbaai het ook hul teenkanting vir die Bela-wet uitgespreek tydens die openbare raadplegingsessies in die Wes-Kaap.

AfriForum het sy regspan opdrag gegee om ’n brief aan Tenbosch Mining (Edms.) Bpk., ’n mynmaatskappy, se nuwe omgewingskonsultasiefirma, die Kimopax Group, te stuur. Dié mynmaatskappy beoog om ’n steenkoolmyn digby die Nasionale Krugerwildtuin op te rig.

AfriForum se regspan het ook ’n dringende aanmaning aan Rand Water gestuur nadat dié waterraad watervoorsiening na verskeie munisipaliteite verminder het weens dié munisipaliteite se agterstallige skuld wat sowat R3 miljard beloop.

Die organisasie het ’n navraag aan die Departement van Water en Sanitasie gerig oor die beplande ses maandelange sluiting van die Lesotho-Hoogland-waterprojektonnel. Dié waterprojek voorsien water aan verskeie streke in die Vrystaat en aan die hele Gauteng.

Dié takke van regoor die land het ingespring om gras te sny en skoon te maak: Springs-tak (2 ha), Vryburg (4 ha), Rustenburg (3,5 ha), die Groter Moot-buurtspan in Pretoria (10 ha), die Noord van die berg-tak in Pretoria (15 ha) en Klerksdorp (die park in Karoblaan).

Die Groter Moot-span het ook ’n noodwaterpunt herstel en ’n stopkraan ingesit, asook ’n boom wat omgeval het opgesny en weggery. Die Noord van die berg-tak het spoedhobbels geverf sodat dit weer duidelik sigbaar is.

Die Middelburg-tak het 13 nuwe sonkragveiligheidsligte by die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) Middelburg Tehuis, Behuising & Oewersig Aftreeoord se Rivierpark-woonstelle opgerig.

Die Knysna-tak het ’n dringende brief aan dié dorp se munisipaliteit gerig oor maandelange rioolstorting wat in die Knysna-strandmeer beland. Dit bedreig onder meer die seelewe waaronder die bedreigde Knysna-seeperdjie.

Hierdie AfriForum-takke het tonne teer gebruik om slaggate te vul en te herstel: Bethlehem, Lichtenburg en Standerton.

Die Lichtenburg-buurtwag het ook kabeldiewe in hul spore gestuit en die gesteelde koper teruggekry. Die Delmas Valke-buurtwag het gehelp om twee gesteelde voertuie terug te kry.

AfriForum se Holrivierplaaswag buite Lutzville in die Wes-Kaap, het ’n egpaar ná afloop van ’n plaasaanval ondersteun.

Soortgelyke plasings