| |

AfriForum-buurtwag fnuik Lichtenburg-motorfietsdiewe se planne

Die AfriForum-buurtwag in Lichtenburg het vandeesweek in samewerking met die Omgee-buurtwag daarin geslaag om vermeende diewe se planne te fnuik deur op drie motorfietse beslag te lê wat dié verdagtes vermoedelik gesteel het.

Dele van die Burgersdorp-woonbuurt gaan die afgelope tyd gebuk onder ’n reeks motorfietsdiefstalle. Twee motorfietse is onlangs uit die gebied gesteel, en Dinsdag (5 Maart) in die vroeë oggendure is die Lichtenburg-buurtwag van nóg ’n voorval in kennis gestel.

Marius Swanepoel, ’n lid van die Lichtenburg-buurtwag, het patrollie gery toe hy oor die jongste voorval te hore gekom het. “Die buurtwag het ’n oproep ontvang dat drie verdagtes ’n motorfiets in Eerstelaan gesteel het. Ons het dadelik opgetree en buurtwaglede ontbied om die verdagtes op te spoor en vas te trek,” sê Swanepoel.

Terwyl Swanepoel die res van die buurt beveilig het, het ’n span buurtwaglede met behulp van ’n hommeltuig die verdagtes in ’n veld by ’n plaaslike vulstasie opgespoor. Die AfriForum-buurtwag het saam met die Omgee-buurtwag, die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) die verdagtes agternagesit, maar ná uitgebreide pogings om die vermeende diewe vas te trek, het hulle die wetstoepassers ontduik. Die buurtwaglede het nogtans hul soektog na die gesteelde motorfiets voortgesit. Hulle het op die motorfiets afgekom, wat in bosse versteek was, en nog twee motorfietse teruggevind wat vermoedelik vroeër die week gesteel is. Die motorfietse is na die Lichtenburg-polisiestasie toe geneem en aan die beamptes oorhandig. Die onderskeie eienaars is reeds daaroor in kennis gestel.

“Die veiligheid van ons gemeenskap is van kardinale belang,” sê Carel Pauly, steunspanleier by AfriForum se Lichtenburg-buurtwag. “Hierdie voorval is ’n bewys dat deur waaksaam te bly en kragte saam te snoer, kan ons die impak van misdaad in ons gemeenskap verminder.”

Kontak Swanepoel by 076 922 5512 of Pauly by 071 339 6180 indien jy vandag nog by AfriForum se Lichtenburg-buurtwag betrokke wil raak.

Soortgelyke plasings