|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het vandeesweek ’n strafregtelike klag teen ’n munisipale bestuurder ingedien ná riool in die Vaalrivier gestort is. Dié burgerregteorganisasie se takke en buurtwagte was ook besig met verskeie aksies wat hulle dorpe verfraai of veiligheid verskerp.

AfriForum het hierdie week ’n strafregtelike klag teen April Ntuli, die munisipale bestuurder van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, gelê en dring nou daarop aan dat Ntuli in sy persoonlike hoedanigheid vervolg moet word vir die storting van rou riool in die Vaalrivier. Dié grootskaalse storting skep die ideale teelaarde vir indringerplante, insluitend waterslaai.

Die burgerregtewaghond het ook uitgewys hoe die regering tot dusver nog net vergaderings gehou het om die waterslaaiprobleem te bespreek terwyl die gemeenskap reeds meer as R6 miljoen spandeer het om dié probleem te takel.

AfriForum beskou die veranderings wat aan die Wetsontwerp op Basiese Onderwyswette (beter bekend as die Bela-wetsontwerp) aangebring is, as niksseggend. AfriForum meen steeds dié wet is ’n poging tot kulturele etniese suiwering deur die ANC-regering, aangesien dit die vernietiging van ’n taal- en kultuurgemeenskap se skole moontlik sal maak om sodoende die groep se kulturele voorbestaan in gedrang te bring.

Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake

In Bothaville het die AfriForum-buurtwag, die SAPD en CSS Security saamgewerk om ’n misdadiger vas te trek ná hy ’n 91-jarige vrou glo in haar huis aangeval het. Hy het haar glo met ’n skroewedraaier gedreig en haar hande met ’n selfoonkabel agter haar rug vasgebind voor hy na bewering verskeie items uit haar huis gesteel het. Die vrou is nie verder beseer nie. Die verdagte het reeds op ’n klag van huisbraak in die hof verskyn.

AfriForum se Paarl-Noord-buurtwag het gehelp om ’n onklaar vragmotor op die N1 teen plunderaars te beskerm. Buurtwaglede en die SAPD was blitsig op die toneel en het ’n groep mans daarvan verhinder om die vragmotor se inhoud te steel.

In Zeerust het die AfriForum-tak die Burgermonument opgeknap. Dié tak het in 2021 verantwoordelikheid vir die monument aanvaar, wat ter nagedagtenis aan burgers van die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) wat in 1900 en 1901 tydens drie veldslae gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) omgekom het, opgerig is.

AfriForum se Helderbergkom-tak het leerders van die Laerskool Gordonsbaai ’n waardevolle les in brandbewustheid en -veiligheid gegee. Daar is gesels oor die verskeie soorte brande, algemene oorsake van brande en hoe belangrik dit is om ’n brandveiligheidsplan te hê. Die hoogtepunt van dié geleentheid was ’n demonstrasie deur die Sir Lowry’s Pas-brandweer, wat hul toerusting skool toe gebring het en die leerders gewys het hoe hulle brande bestry. Hierdie tak het ook padveiligheidswenke aan die kleuters van die Helderberg Kids-kleuterskool gegee.

Die Sir Lowry’s Pas-brandweer lewer ’n demonstrasie by die Laerskool Gordonsbaai.

In Lichtenburg was die AfriForum-tak in Maart en April volstoom met ’n slaggatprojek aan die gang. Hier is amper 44 ton teer en vyf dromme SS60-bitumen gebruik om slaggate te herstel. Die Rustenburg-tak laat ook nie gras onder hul voete groei nie. Hierdie tak het sowat vier hektaar gras in April gesny om verskeie parke in die dorp skoon te hou.

AfriForum se Overstrand-tak het gesien daar is ’n tekort aan kennisgewingborde en bakens in die Harderbaai-marienereservaat. Dié tak het in samewerking met die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye kennisgewingborde en bakens in die reservaat opgerig wat met die bewaring van die natuurlewe in die reservaat sal help.

Soortgelyke plasings