|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

Dit was weer ’n besige week vir AfriForum se takke wat gehelp het om hul dorpe skoon te maak en op te knap waar dit nodig was. Dié burgerregteorganisasie se privaatvervolgingseenheid het ook ’n groot oorwinning vir geregtigheid beklink toe ’n voormalige soldaat op verskeie klagte skuldig bevind is.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het seker gemaak dat geregtigheid geskied in die saak waar Leon Santos Conga, ’n voormalige soldaat van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW), op klagte van verkragting en poging tot moord in die Pretoria-streekhof tereggestaan het. Conga het nie sy MIV-status aan Antoinette Ndishishi, die klaer, bekend gemaak nie en haar met dié virus besmet. Die eenheid het Conga se mediese rekords by die SANW bekom en dit het bygedra tot sy skuldigbevinding. Landdros Fikiswa Ntlati het Conga skuldig bevind aan verkragting aangesien Ndishishi slegs ingestem het om onbeskermde seks met hom te hê nadat hy gesê het hy is MIV-negatief. Hy is ook skuldig bevind aan poging tot moord aangesien hy MIV aan Ndishishi oorgedra het.

Die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit trek al vir meer as vier jaar lank skouers op oor riool wat in Upington in die Oranjerivier vloei. AfriForum het reeds dié kwessie onder die Menseregtekommissie (MRK) se aandag gebring en daar word saamgewerk aan ’n oplossing. Die tesourie het R260 miljoen beskikbaar gemaak vir ’n vier-fase-plan om die nodige herstelwerk te doen, maar die munisipaliteit het nog nie verder as die tweede fase gevorder nie. Riool vloei steeds op skoolgronde en op die erwe van gastehuise.

AfriForum se privaat brandweerdiens is verlede week in Bloemfontein op die been gebring en het reeds gehelp om twee brande te blus. AfriForum het ook ’n vullisverwyderingsdiens in dié stad wat verskeie huishoudings diens. Hierdie dienste word deur AfriForum gelewer aangesien die Mangaung Metro se dienslewering stelselmatig al meer verval. In Alberton het die AfriForum-tak in een nag ses brande geblus.

’n Nuwe opleidingsmodule is vir AfriForum se buurtwagte ontwikkel om te help om ysterpenlokvalle (oftewel spikings) te bekamp. Hierdie soort aanvalle het veral op die hoofroetes rondom Pretoria toegeneem. AfriForum het tans 177 buurtwagte en lede kan ook verskeie ander opleidingsmodules aanpak.

Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid

AfriForum se Noord van die berg- en die Groter Moot-buurtspan in Pretoria het in ’n maand onderskeidelik 1 540 sakke met vullis gevul en 95 man-ure met kettingsae gewerk om hul omgewings netjies te maak. In Benoni het die AfriForum-tak nie toegelaat dat die koue weer hulle afskrik nie en hulle het meer as ’n ton teer gebruik om slaggate te herstel.

Die Kammanassie-plaaswag het besluit om proaktief op te tree om die afgeleë gemeenskap van Noll, een van die landelike gebiede rondom George, teen die toenemende voorkoms van gewelddadige aanvalle by kerke te beskerm. Dié plaaswag het verlede naweek twee sonkragveiligheidsligte by die NG Kerk in Noll laat installeer om hierdie terrein behoorlik te belig.

Soortgelyke plasings