|

Kaap Agulhas-tak se nuwe bestuur bou beter toekoms vir gemeenskappe

AfriForum se Kaap Agulhas-tak, wat dorpe soos Bredasdorp, Napier en Struisbaai ondersteun, se nuwe bestuur is pas aangewys en dié span is gereed om hierdie gemeenskappe se veerkragtigheid te verbeter. Die nuwe bestuur is: Freddie Els (voorsitter), Jaco Marais (ondervoorsitter), Douw Willemse (sekretaris), Lettie Pienaar (tesourier), Mariaan Janse van Rensburg (veiligheid) en Russel Haikney (omgewingsake).

Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap, het die vorige bestuur bedank vir hul harde werk en toewyding teenoor die gemeenskap. Die nuwe bestuur het onderneem om die werk van hul voorgangers voort te sit en op hul suksesse voort te bou.

Die nuutverkose bestuur beplan om dadelik by die gemeenskap betrokke te raak deur kommentaar in te dien oor hoe die Kaap Agulhas Plaaslike Munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan verder verbeter kan word. Dié tak gaan hom ook beywer om die gemeenskappe wat deur die munisipaliteit bedien word meer weerbaar te maak deur al die dorpe se strate te verlig.

“Dit is bemoedigend om te sien dat die nuwe takbestuur reeds aktief werk om die regte en belange van die gemeenskap te beskerm. Ek is vol vertroue dat dié bestuur ’n positiewe impak op die Kaap Agulhas-gemeenskap sal maak,” sê Erasmus. “Ons hoop dat hul werk ander sal inspireer om betrokke te raak en ’n verskil in hul gemeenskappe te maak. Saam kan ons ’n beter toekoms vir Suid-Afrika bou.”

Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel 081 216 9602 om by AfriForum se Kaap Agulhas-tak betrokke te raak.

Soortgelyke plasings