|

Forum Nuus: Die week se Blitsflits

AfriForum het weer hierdie week ’n paar suksesse in die hof behaal en verskeie takke het moue opgerol om ’n verskil in hul onderskeie dorpe te maak.

AfriForum Jeug het ’n oorwinning oor die Nasionale Skema vir Finansiële Bystand vir Studente (NSFAS) behaal vir ’n groep van die studente wat die organisasie om hulp genader het ná NSFAS in 2020 sowat 5 000 studente se befondsing teruggetrek het. Daar is in die hof erken dat NSFAS nie sekere inligting van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens bekom het soos hulle voorheen op aanspraak gemaak het nie.

In ’n tweede sukses in die hof is verlof tot appèl aan AfriForum toegestaan in verband met die Koster-saak. Regter A.J. Mahlangu van die Noordwes Hooggeregshof het verlof tot appèl toegestaan nadat sy op 19 Mei 2021 bevind het dat Joseph Mogale, die munisipale bestuurder van die Kgetlengrivier Plaaslike Munisipaliteit, nie skuldig is aan minagting van die hof nie. Dit volg nadat Mogale klaarblyklik geen poging aangewend het om die water- en rioolwerke in Koster reg te ruk nie en versuim het om aan spesifieke bepalings van ’n hofbevel te voldoen. ’n Volbank regters van die hooggeregshof in Mahikeng sal nou die beslissing heroorweeg.

“Ons verwelkom die regter se toestaan van verlof tot appèl aangesien ons van mening is dat daar ’n sterk saak is teen die munisipale bestuurder. Ons kan nie toelaat dat munisipale amptenare bloot wegkom met die verontagsaming van hofbevele nie,” sê Wico Swanepoel, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Die AfriForum-tak in Benoni het die dorp se voorkoms op verskeie maniere ’n hupstoot gegee. Daar is die afgelope week slaggate in Uysweg herstel, groenstroke is gesny en netjies gemaak en die Lanyon-brug is skoongemaak. Ongeveer 60 sakke teer is vir die vul van slaggate gebruik.

Groenstroke is die afgelope week in Benoni netjies gemaak.

Meer as 1,5 ton teer is in Parys aangewend om slaggate te herstel. Taklede, lede van die buurtwag en lede van Security Master se reaksiegroep het onder meer gehelp.

Die AfriForum-tak in Klerksdorp het ’n hommeltuig aan die opgeleide hommeltuigvlieёniers oorhandig vir gebruik in die bekamping van misdaad in die stad. “Wanneer buurtwagte met die nuutste tegnologie toegerus kan word, maak dit my baie opgewonde. Ek is ook baie dankbaar vir lede wat bereid is om die intensiewe opleiding te ondergaan,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

‘n Hommeltuig sal in Klerksdorp aangewend word om misdaad te bekamp.

Soortgelyke plasings