|

Skrywer lê uitbuiting van Afrika en sy mense vernuftig bloot in nuwe boek

’n Mens hoor of lees byna daagliks van een of ander nuwe ontwikkeling, buitelandse projek of beoogde ontwikkeling wat internasionale maatskappye en/of die regering vir die land in die vooruitsig stel. Dikwels hou dié berigte verband met onwettige mynbedrywighede, die vernietiging van die omgewing en ekologie, die ooglopende plundering van die skaars hulpbronne of eksplorasieplanne aan die kus.

Min mense dink dalk twee keer oor hierdie soort nuus, maar die eksploitasie van Afrika deur buitelandse moonthede is ’n onderwerp wat Dibi Breytenbach, ’n skrywer van KwaZulu-Natal, na aan die hart lê en die inspirasie vir haar sewende boek Buit was.

’n Mens verloor regtig die vermoë om eufemisties oor geweld te praat as jy elke dag daarmee werk.

Sy is van beroep ’n regsgeleerde wat die gesig van geweldsmidaad goed ken. Buit word deur die medeskrywer Rudie van Rensburg as “tergend, angswekkend en onthutsend” beskryf. Dit is aktueel en geweld is deel van die resep. “Van die tonele is grusaam. ’n Mens verloor regtig die vermoë om eufemisties oor geweld te praat as jy elke dag daarmee werk. Geweld is ’n magsding. Ek verheerlik dit nie en probeer daaroor skryf soos dit is. Van die tonele het ek gesien. Ek glo dat ons nie kan toelaat dat vroue en kinders vir niks doodgaan nie. Ek roep hulle in herinnering wat op aaklige maniere om die lewe gebring is,” verduidelik Breytenbach.

Marga Ley, mede-eienaar van Boekeplek en Kuierstoep, en die skrywer Dibi Breytenbach.

Sy het vandeesweek tydens die bekendstelling van die boek by Boekeplek en Kuierstoep in Pretoria gesê die uitbuiting van Afrika rig ontsettend baie skade aan. “En dit onder die voorwendsels van goeie bedoelings. Buitelandse moonthede en maatskappye kom nie met skoon hande na Afrika nie. Hulle kom onder die voorwendsel dat hulle werk en geleenthede gaan skep wat goed is vir Afrika, terwyl hulle wins maak en die vrugte pluk van die onstabiliteit wat hulle skep. Hulle wil die mense ten onregte bemagtig en van hulle Europeërs maak, terwyl hulle mense in hul eie reg is.

“Wie gee hierdie lande en maatskappye die reg om by Afrika en sy mense en hul lewenswyse in te meng?”

Sy meen die boek was ook vir haar op ’n manier ’n katarsis. “Dit klink dalk ydel om dit so te stel, maar dit het my Afrika-wortels vir my geherkalibreer. Ek is in Afrika gebore en getoë, my ouers is hier gebore en getoë al is ons van Europese herkoms. Maar vir die eerste keer kan ek eerlik waar sê ek voel myself meer Afrikaan as Europees. Ek kan dit vir die eerste keer vir myself verwoord. Ek hoop dat daar meer begrip in hierdie verband sal wees, want dit is ’n proses wat ons almal raak. Die siniese roofsugtigheid gebeur nie net in Nigerië of daar ver nie. Dit is ook hier by ons.”

Die verwoestingspoor lê die hele Afrika vol met voorbeelde van politieke oorloë, ontbossing, stroping van wild en renosters, groot omgedolwe gebiede, smokkelary en eksplorasie by kusgebiede. Dít terwyl politici en lande se regerings nou betrokke is en baie dikwels voordeel uit hierdie uitbuiting trek.

Breytenbach het vir solank as wat sy aan die boek geskryf het navorsing gedoen. Dit speel af in Mosambiek waar sy nog nooit self was nie. Gevolglik moes sy baie navorsing oor die land doen asook oor die gedeeltes waarby privaat militêre kontrakteurs (baie mense verwys “verkeerdelik” steeds na die kontrakteurs as huursoldate) betrokke is.

NB Uitgewers som die boek so op: Dit handel oor Markus Gerlach en Domingos Magadzi wat oor die grens van Suid-Afrika na die noorde van Mosambiek vlug omdat hulle vrees dat hulle van moord aangekla sal word. Die joernalis Phoebe Maritz sit hulle agterna om ’n eksklusiewe onderhoud los te slaan. Maar Cabo Delgado, waar die twee wegkruip, word deur terreur geteister en niemand is daar veilig nie. Gou bevind Phoebe haar midde-in ’n botsing tussen gevreesde insurgente, private militêre kontrakteurs en – erger nog – ’n bloeddorstige reeksmoordenaar.

Volgens Breytenbach is die reeksmoordenaar, wat Afrikavroue verkrag, die metafoor vir die sentrale tema van die boek naamlik die “verkragting van Afrika deur goed bedoelde filantrope wat die kontinent verwoes en dan afskryf”.

Buit is haar sewende boek. Voor dit is twee trilogieë gepubliseer, wat bestaan uit Dowe Gode, Blinde Gode en Stom Gode en Saliger, Heiliger en Vrediger.

Soortgelyke plasings