|

Forum Nuus: Die Week se Blitsflits

AfriForum se jaarlikse Vullisterreinoudit is vandeesweek uitgereik en nie eens 20% van die 162 vullisterreine wat besoek is het ’n slaagsyfer volgens minimum standaarde van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur behaal nie. ’n Lys van 33 vrae, met die minimum vereistes as riglyne, word gebruik om punte toe te ken.

“Die swak persentasie kan toegeskryf word aan verskeie probleme wat by munisipaliteite ondervind word wat lei tot die swak en onwettige bestuur van ons vullisterreine. Die struikelblokke is oneindig soos die feit dat daar amptenare in munisipaliteite is wat weet hul swak bestuur hou geen gevolge vir hulle in nie,” sê Lambert de Klerk, bestuurder van omgewingsake by AfriForum.

Lambert de Klerk, bestuurder van omgewingsake by AfriForum

Lees die volledige verslag hier.

Meer as 40 000 boetes is net in Mei vanjaar uitgereik aan persone wie se bestuurslisensiekaarte verval het. AfriForum het onlangs ’n regsaksie begin teen die vereiste dat hierdie kaarte elke vyf jaar hernu moet word. Die publiek word gevra om die burgerregte organisasie te kontak as hulle onlangs gestraf of beboet is omrede hulle sonder ’n hernude lisensiekaart bestuur het. Vertel AfriForum hier van jou boete. Meer stemme maak AfriForum se saak sterker.

Reiner Duvenage, Veldtogbeampte: Strategie en inhoud

Verskeie AfriForum-takke het die afgelope week aan die nasionale massapatrollie deelgeneem. AfriForum-buurtwagte in samewerking met die SAPD, die plaaslike GPF, gemeenskapslede en verskeie sekuriteitsmaatskappye neem aan die patrollie deel wat polisiëringsigbaarheid skep. Altesaam 2 090 patrolleerders het aan die nasionale patrollie deelgeneem en 72 176 km in 1 634 voertuie afgelê. Gedurende die patrollie het die buurtwagte op 88 voorvalle oor die land heen gereageer.

Verskeie AfriForum-takke het volhoubare skoonmaakprojek voortgesit. In Rustenburg is meer as 3 ha gras gesny en in Bloemfontein is agt trokke vullis uit Fichardtpark weggery en daar is ook in verskeie ander woonbuurte skoongemaak.

Die Pongola-tak het die plaaslike vliegveld opgeknap en verskeie verbeterings aangebring nadat die uPhongolo Plaaslike Munisipaliteit versuim het om sy verpligtinge om die vliegveld in stand te hou, na te kom. Veiligheidsligte is vervang, die gras langs die aanloopbaan en om die geboue is gesny, en die strepe op die aanloopbaan is oorgeverf.

Soortgelyke plasings