|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

Die twee wrede plaasaanvalle vandeesweek in onderskeidelik Limpopo en Mpumalanga beklemtoon opnuut hoe noodsaaklik dit is dat gemeenskappe paraat moet wees en planne in plek moet hê om na hul eie veiligheid om te sien.

In albei gevalle is die aanvallers vasgetrek. Een van die verdagtes in die moord op Marthiens Richter, ’n boer van Thabazimbi, is ook in ’n oor-en-weer-skietery doodgeskiet.

AfriForum se 160 buurtwagte is deurlopend besig met opleiding en die uitbou van strukture sodat gemeenskappe hulself beter kan beveilig.

Die Mooirivier-buurtwagte het die afgelope tyd meer as 600 patrollies gery en was ook betrokke by die opsporing van ’n verdagte voertuig en die arrestasie van kabel- en veediewe.

In die lig van die aanslag op landelike gemeenskappe en boere gaan AfriForum ook vandeesmaand sy #DieWêreldMoetWeet-veldtog in die VSA voortsit. Tydens die besoek sal die wêreld ook ingelig word oor die onlangse hofuitspraak waarin verklaar is dat die sing van “Kill the boer” nie haatspraak is nie.

AfriForum se takke het ook hul goeie werk voortgesit en die Keimoes-tak en Grootoog-buurtwag het ’n reusebrand geblus.

In Bronkhorstspruit het die tak voetoorgange voor die Hoërskool Erasmus en die Laerskool Du Preez van Wyk oorgeverf.

AfriForum het voetoorgange in Bronkhorstspruit oorgeverf.

AfriForum se Wes-Moot-tak het vier bome by Hoër Tegniese Skool Pretoria-Tuine geplant.

AfriForum het ook die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit op terme geplaas oor die haglike toestand van die drinkwater in Parys. Die resultate van die laboratoriumtoetse deur die drukgroep, Save Ngwathe, toon duidelik dat die drinkwater vuil is en dat daar E. Coli-bakterieë in die kraanwater teenwoordig is, wat beteken daar is rou riool in die water. Dit volg nadat verskeie inwoners ook van die water siek geword het.

AfriForum het die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit op terme geplaas oor die haglike toestand van drinkwater in Parys.

AfriForum het ook hofstukke teen regeringsmagsmisbruik ingedien en staan ook gereed om die howe in ander sake te nader.

Hofstukke is onder meer by die Hooggeregshof in Pretoria ingedien om dele van die Wet op Rampbestuur wat die organisasie as kanale vir magsmisbruik deur die regering geïdentifiseer het, te hersien en tersyde te stel. Die kruks van die uitdaging kom teen die agtergrond van die Covid-19-pandemie nadat dit ingevolge die Wet tot ’n nasionale ramp verklaar is. AfriForum neem hierdie saak in belang van sy meer as 306 000 lede en die algemene publiek na die hof.

AfriForum is ook van voorneme om die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys in die hof teen te staan nadat Angie Motshekga, minister van Basiese Onderwys, in die Nasionale Vergadering gesê het dat skole se taal- en toelatingsbeleid nie net deur beheerliggame bepaal kan word nie, maar eerder deur landswette. Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, het Motshekga met haar uitlatings weereens bewys dat die wetsontwerp nie op die bevordering van gehalte onderrig fokus nie, maar op die vernietiging van Afrikaans as onderrigtaal en groter magsentralisasie in die hande van die staat.

AfriForum het ook vandeesweek ’n mondelinge voorlegging voor die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Polisie gedoen om die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op die Beskerming van Grondwetlike Demokrasie teen Terroriste en Verwante Aktiwiteite teen te staan.  Verskeie bepalings in die wetsontwerp, wat van voorneme is om groter magte aan die polisie te verleen, maak egter onregverdig inbreuk op verskeie fundamentele regte, insluitend die regte op vryheid van uitdrukking en assosiasie, politieke vryheid, die reg op privaatheid, die reg tot gewetensvryheid en die reg tot toegang tot inligting.

Soortgelyke plasings