|

AfriForum eis antwoorde oor uitstaande vuurwapenlisensies

Die burgerregteorganisasie AfriForum het nog geen korrespondensie van die SAPD en Staatsdrukkery ontvang nie, nadat die organisasie se regspan op 17 Julie 2020 ’n skrywe gerig het oor die vertraging met die druk van vuurwapenlisensies. Daar is ook gevra wat die instansies gaan doen om die bottelnek uit te stryk wat deur hierdie vertraging veroorsaak is. Albei instansies is versoek om teen 22 Julie 2020 te reageer.

Dit volg nadat AfriForum oorval is met navrae van gefrustreerde en bekommerde lede wat steeds nie hul lisensiekaarte ontvang het nie, ten spyte daarvan dat hul lisensies reeds in Februarie vanjaar goedgekeur is. By navraag aan die relevante polisiekantore word persone eenvoudig meegedeel dat die rede vir die oponthoud by die Staatsdrukkery lê.

“AfriForum sal hierdie aangeleentheid nougeset dophou, aangesien dit ’n direkte invloed het op wetsgehoorsame burgers se vermoë om hulself en hul families te beveilig,” sê Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder vir Gemeenskapsveiligheid.

Kragtens die Wet op die Beheer van Vuurwapens (Wet 60 van 2000) moet ’n voornemende vuurwapeneienaar sy/haar lisensiekaart ter hande hê alvorens die persoon sy/haar vuurwapen by die verskaffer of verkoper van die vuurwapen waarvoor die lisensie aansoek gedoen is, gaan afhaal.

“Ons sal aanhou om druk toe te pas op die instansies wat verantwoordelik is vir die druk en verspreiding van vuurwapenlisensies. Persone wat hulself in dié posisie bevind, moet van hulle kant af ook gereeld by die relevante polisiestasie opvolg oor die status van hul lisensies.”

Soortgelyke plasings