|

AfriForum se Bronkhorstspruit-tak voorsien die gemeenskap van 10 000 liter water

Die AfriForum-tak in Bronkhorstspruit het op 8 September ’n watertrok met 10 000 liter water aan die Bronkhorstspruit-gemeenskap verskaf. Dit volg nadat sekere dele van die dorp al vir meer as twee weke sonder water is.

Na verskeie pleidooie vanuit die gemeenskap is AfriForum genoop om ’n dringende brief aan die Stad Tshwane se munisipale bestuurder, rakende hierdie diensleweringsprobleem, te stuur. Hierdie brief het egter op dooie ore geval en AfriForum moes noodgedwonge ingegryp om verligting aan die gemeenskap se waterkrisis te bring.

In die interim het AfriForum ’n watertrok met 10 000 liter water aan die gemeenskap beskikbaar gestel sodat hulle toegang tot gratis water kon hê. AfriForum beoog om twee noodwaterpunte in Bronkhorstspruit op te rig om ’n volhoubare oplossing vir toekomstige watertekorte te bied.

Ons bedank graag die volgende AfriForum-buurtwaglede wat met die aksie gehelp het: Barend Rossouw; Petro Rossouw; Magda Lewis; Adriaan Oosthuizen; en Madeleen Wilken.

“AfriForum sal aanhou om ons gemeenskappe, waar die staat of munisipaliteit misluk, by te staan en hoop in gemeenskappe te skep deur projekte van stapel te stuur wat ’n daadwerklike verskil in die betrokke area maak,”  sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.

Raak vandag nog by AfriForum se Bronkhorstspruit-tak betrokke om ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak: SMS “Bronkhorstspruit” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings