|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum Jeug het vandeesweek hul stem dik gemaak oor ’n paar belangrike sake terwyl die burgerregteorganisasie se takke en buurtwagte ook ’n besige week agter die rug het met volhoubare projekte en massapatrollies.

AfriForum Jeug het vandeesweek gesê dis nie genoeg dat die Universiteit Stellenbosch-konvokasie se klag teen prof. Wim de Villiers net tot nepotisme beperk word en geen melding maak van die skending van Afrikaanse studente se menseregte nie. Studente het in 2021 beweer hulle word verbied om in hul moedertaal, selfs in privaat hoedanigheid, te kommunikeer. Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) het ondersoek ingestel en bevind Afrikaanse studente se menseregte is wel geskend. AfriForum Jeug meen dus die klag teen De Villiers moet ook melding maak van dié menseregte skending wat onder sy toesig plaasgevind het.

Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum

By die Universiteit van Pretoria (UP) het AfriForum Jeug geëis dat daar teen die EFF Student Command (EFFSC) van UP se lede wat hulle aan haatspraak skuldig gemaak het, opgetree word. AfriForum Jeug het ’n dokument onder oë gehad waarin die EFF-lede ander studente op kampus met woorde dreig wat volgens die SAMRK haatspraak is. Voorts bevat die dokument rassistiese opmerkings. 

“AfriForum Jeug begryp die erns van die navrae wat ons ontvang het van Tuks-studente wat onveilig voel as gevolg van die EFFSC UP se aanhitsing tot geweld en haatspraak. Ons optrede om die skuldiges verantwoordbaar te hou, is egter nie slegs gefokus op hierdie een voorval nie, maar ’n voorbeeld van hoe ernstig ons die EFFSC se radikale uitlatings, op alle kampusse, beskou,” sê René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug.

René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug

AfriForum se buurtwagte het die afgelope naweek aan ’n massapatrollie deelgeneem om sigbaarheid en veiligheid te bevorder. Dié massapatrollie is in samewerking met die SAPD, plaaslike GPF’s, gemeenskapslede en verskeie sekuriteitsmaatskappye aangepak. Altesaam 2 474 patrolleerders het aan die patrollie deelgeneem en ’n totaal van 67 051 km in 1 911 voertuie afgelê. Daar is in samewerking met die SAPD op verskeie misdadigers toegeslaan.

In Vryburg het die AfriForum-tak vanjaar reeds verskeie volhoubare projekte aangepak. Die Vryburg Konsentrasiekamp word al vir drie jaar onderhou en die tak sny die gras, verwyder rommel en snoei die bome. Daar is ook onlangs begin met ’n projek om leë erwe skoon te hou om moontlike wegkruipplekke vir misdadigers te beperk.

AfriForum het slaggate in Frankfort herstel.

AfriForum se Frankfort-tak het meer as 12 ton teer aangewend om slaggate te herstel en die Noord van die berg-tak in Pretoria het die Heldeakker-begraafplaas opgeruim. Gras is gesny, bossies uitgetrek, en rommel opgetel. Sowat 150 swartsakke vol rommel en tuinvullis is uiteindelik weggery.

Soortgelyke plasings