|

AfriForum bemagtig publiek in Vryheid met vuurwapenopleiding

AfriForum het reeds 46 mense in Vryheid in basiese vuurwapen tegnieke opgelei. Volgens Eugene van Aswegen, AfriForum se distrikskoördineerder in KwaZulu-Natal en fasiliteerder van die kursus, is daar veral ’n oplewing in die belangstelling onder vroue wat die kursus wil bywoon.

“Daar was aanvanklik drie vroue wat die kursus bygewoon het, maar die getal het nou al gegroei na tien toe. Die kursus sluit teoretiese en praktiese opleiding in wat die basiese hantering van ’n handwapen insluit asook ander elemente wat veiligheidsbewustheid kweek,” sê Van Aswegen.

Een van die vroue wat tans besig is met die opleiding is Natasha Badenhorst. Daar was in Maart ’n gewapende roof by hul huis waar haar man in ’n oor-en-weer skietery dood is.

“Ek en ’n paar vriendinne het buite die huis gesit toe daar ewe skielik ’n man by ons was. Hy het ’n vuurwapen op my gerig en ek het kliphard begin bid. Een van my vriendinne het gegil waarna ek skote hoor klap het. My man het uit die huis gestorm. Daar was intussen nog twee rowers en hy het op hulle geskiet en hulle op hom.  Ná die skote opgehou het en die rowers gevlug het, het ek na my man geroep, maar hy het nie geantwoord nie. Hy is doodgeskiet.”

Een van die rowers is later elders dood aangetref en een is aangekeer. Die ander een is nog op vrye voet.  Die gemeenskap was gou om Badenhorst en haar twee dogters te ondersteun. AfriForum se Trauma-eenheid het hulle ook met berading gehelp. Badenhorst het besluit om AfriForum se opleiding by te woon.

Ons het baie waardevolle goed tydens die opleiding geleer.

“Natuurlik het ons geleer hoe om ’n vuurwapen veilig te hanteer, maar die opleiding het veel wyer as dit gestrek. Ons het geleer oor die wet, hoe om altyd paraat te wees, tonnelvisie en selektiewe gehoor uit te skakel en hoe om gevaartekens om jou raak te sien. Die opleiding help my om veiliger te voel en ek sal ander vroue ook aanmoedig om hulle met hierdie kennis te bemagtig.”

Van Aswegen sê die opleiding het nuwe lewe in die AfriForum-buurtwag in Vryheid geblaas en hy moedig meer plaaslike inwoners aan om by AfriForum se strukture in te skakel. Kontak hom op 076 427 1757 om meer uit te vind of om een van die opleidingsessies by te woon.

Soortgelyke plasings