|

AfriForum se Upington-tak maak rioolpyp oop

Op  14 April het ’n lid van AfriForum se Upington-tak vir Werner Strauss, distrikskoördineerder in die Kalahari, gekontak en gevra of die tak moontlik hulp aan Jan Nel kan verleen met riool wat in sy persele invloei.

Dit volg nadat twee van Nel se huurders oor die riool-kwessie kontrak wou breek. Die Duitse motorvervaardigers van Mercedes-Benz, BMW, Volkswagen, Audi en Porsche sowel as die Italiaanse motorvervaardigers soos Ferrari, Buggati en Fiat is onder dié wat by Nel  in die industriële gebied van Upington huur. Die maatskappye en motorhandelaars se werknemers woon tot ses maande van die jaar in Upington en dra tot die dorp se ekonomie by.

Die huurder asook die eienaar van die geaffekteerde persele het al verskeie kere die afgelope twee jaar die klagtekantoor van die Dawid Kruiper-munisipaliteit (DKM), amptenare en raadslede gekontak. Tans het hulle slegs vier verwysingsnommers terwyl daar niks aan die saak gedoen word nie.

Strauss het saam met Nel, Oryx Plumbing Upington gekontak. Hendrik van Der Westhuizen het uitgekom en die rioolpyplyn nagegaan om vas te stel waar die blokkasie is. Van Der Westhuizen het bepaal dat die hoof-rioolpyplyn wat uit die industriële gebied na die rioolwerke vloei verstop is en dat daar agt mangate sonder deksels is. Van Der Westhuizen het aan die werk gespring en vier ure later is die riool-kwessie uitgesorteer.

AfriForum se Upington-tak bedank Oryx Plumbing Upington vir hulle bereidwilligheid en spoedige optrede. Die Upington-tak het voorlopig die kostes om die pyplyn oop te maak gedra, maar die rekening sal aan die DKM gestuur word sodat hulle dit aan die tak kan terugbetaal.

“As die Dawid Kruiper-munisipaliteit nie hul basiese pligte en dienslewering aan die gemeenskap nakom nie moet die gemeenskap na hulself omsien. Upington maak staat op huurders en buitelanders wat hulle geld in ons dorp spandeer en as ons na die dorp kyk, kan ons die agteruitgang stuit,” sê Strauss.

Soortgelyke plasings