|

Nuuskommentaar: Minister meen Prasa verbeter, maar moeilik om te sien wat beter is

Volgens Lydia Chikunga, die nuwe minister van vervoer, is daar wel verbetering by die Passasiersspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa), maar as ’n mens kyk na hul uitsette die afgelope paar jaar is dit moeilik om te sien waarna sy verwys.

Prasa het oor die volgende vyf tot sewe jaar R7 miljard van die staat nodig al is net 15 miljoen passasiers verlede jaar op Prasa-treine vervoer. In 2019 het 230 miljoen passasiers van Prasa-treine gebruik gemaak. Dis ’n drastiese afname van die meer as 550 miljoen wat in 2014 vervoer is

Dit laat ’n mens wonder waarom ’n allemintige R7 miljard nodig is? Chikunga sê die sinjaalstelsels in Johannesburg en Kaapstad moet geprioritiseer word sodat meer treine per spoor aangewend kan word. Vir ingeligtes klink dit eerder na ’n tipiese niksseggende ding vir ’n staatsentiteit om kwyt te raak om eintlik net meer geld in die koffers te kry om te steel.

Geld verdwyn maklik by staatsentiteite soos Prasa, die poskantoor, SAL en Eskom.

En daar is boonop ook nog baie spoke in die gange by Prasa. Dié agentskap sukkel steeds om die probleem van sowat 3 000 spookwerkers te takel. Volgens Prasa is ’n spookwerker ’n werknemer wat nog nie geverifieer is nie. Dit kan heel onskuldig wees dat ’n werknemer net nie ’n identiteitsdokument of ’n sertifikaat ingedien het nie. Dit kan egter ook beteken dat salarisse betaal word aan iemand wat glad nie vir Prasa werk nie.

Fikile Mbalula het verlede jaar, toe hy nog minister van vervoer was, gesê die ondersoek oor die spookwerkers sal reeds in Julie 2022 afgehandel wees. Dit lyk dus nie of die sogenaamde “Mr. Fix”, soos Mbalula na homself verwys, Prasa “herstel” het nie. Dit was ook die geval toe hy minister van polisie was en toe hy as minister van sport gedien het. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het op 4 Mei ’n brief aan luitenant-generaal Godfrey Lebeya, hoof van die Valke, gerig om antwoorde te kry oor die korrupsie-ondersoek teen Mbalula. Dié ondersoek hou verband met ’n vakansie wat Mbalula en sy gesin in 2018 in Doebai gehou het. Miskien is die een verbetering by Prasa dat Mbalula nie meer direk betrokke is nie.

Behalwe die bovermelde probleme, was daar teen April verlede jaar R30,4 miljard onreëlmatige besteding op Prasa se boeke. Teen einde Maart vanjaar was hierdie bedrag nog R428 miljoen meer. So ook hier was daar nie verbetering nie. Dan word Leonard Ramatlakane, voorsitter van Prasa, ook tans ondersoek omdat hy en sy gesin blykbaar in Maart in ’n luukse huis, wat aan Prasa behoort, ingetrek het. Hierdie huis is eintlik net vir Prasa se topbestuur bedoel.

Prasa oorweeg ook om lokomotiewe te huur aangesien lokomotiewe aangekoop is wat nie op Suid-Afrikaanse spore aangewend kan word nie. Dié lokomotiewe moes ook aangepas word. Swifambo Rail het ’n Prasa-tender gekry om lokomotiewe aan te koop en is intussen gelikwideer. Regsaspekte aangaande dié saak moet nog uitgestryk word.

In Junie begin die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) met leefstyloudits op Prasa se topbestuur. Dit word gedoen wanneer iemand se uitgawes deurlopend hul inkomste oorskry en dit nie verduidelik kan word nie. Dit volg ná vrugtelose en onreëlmatige uitgawes waarby kontrakte ter waarde van R33 miljard betrek word.

Dit klink dus eerder of Chikunga soos haar voorganger in ’n droomwêreld woon as wat daar tasbare verbetering by Prasa was.

Lydia Chikunga, die nuwe minister van vervoer

Soortgelyke plasings