|

Sunfield-tehuis se subsidie moet verhoog ná AfriForum ingryp

Die Mpumalanga Hooggeregshof het vandag beslis dat Sunfield Home Fortuna, ’n tehuis vir fisiek en verstandelik gestremde persone in Balfour, se subsidiebedrag in ooreenstemming met inflasie verhoog moet word. Die tehuis huisves 36 staatgesubsidieerde inwoners.

Die hof het vandag beslis dat Mpumalanga se Departement van Maatskaplike Ontwikkeling in gebreke gebly het om genoegsaam te begroot deurdat daar oor die afgelope 15 jaar nie voorsiening gemaak is vir inflasieverhogings van staatsgesubsidieerde inwoners se toelae nie. Die uitspraak beveel onder meer dat die 2024/2025-subsidie op ’n maandelikse bedrag, soos bepaal deur die hof, betaal moet word en dat die jaarlikse verhoging op grond van verbruikersprysindeks (VPI) begroot en betaal moet word.

Dié tehuis het AfriForum in 2022 genader nadat hulle subsidiebedrag nie die afgelope 15 jaar verhoog is nie en hulle steeds R1 984 per maand per inwoner ontvang het. Dít terwyl daar ander tehuise in Mpumalanga is wat tot R15 000 per inwoner per maand ontvang. Met Forum Nuus se besoek aan die tehuis in 2022 het die personeel gesê hulle het maandeliks ’n tekort van sowat R7 000 per inwoner.

Volgens Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, het die departement die nodige fondse om voldoende finansiële ondersteuning aan Sunfield Home Fortuna te verskaf. “Dit is skokkend om die ANC-beheerde owerhede se onverskilligheid oor die welstand van die kwesbaarste mense in die samelewing te aanskou. Dit is gevegte soos dié wat die belangrikheid benadruk van organisasies wat, soos AfriForum, opstaan vir dié wat die regering onbillik hanteer,” sê Boshoff. 

Boonop het die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling in Mpumalanga in 2022 gedreig om van die inwoners na ander tehuise te skuif. AfriForum het in September 2022 reeds ’n oorwinning in die hof behaal toe daar beslis is dat die departement nie inwoners mag skuif nie.

Inwoners van die tehuis was destyds vreesbevange dat hulle geskuif sou word en het gereeld berading ontvang om hulle te verseker dat niemand hulle gaan verwyder nie.

“AfriForum sal voortgaan om die situasie te moniteer om te verseker dat die staat se nalatigheid reggestel word. AfriForum sal ook waaksaam bly om owerhede aanspreeklik te hou om hul verantwoordelikhede teenoor die kwesbaarste lede van die samelewing na te kom,” sê Boshoff.

Kyk hier na die vorige Forum Nuus-video.

Soortgelyke plasings