|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het vandeesweek sterk standpunt ingeneem teen die beoogde Onteieningswetsontwerp [B 23 – 2020] en het ’n mondelinge voorlegging voor die Gautengse Wetgewer se Portefeuljekomitee vir Infrastruktuurontwikkeling en Eiendomsbestuur gedoen.

Die organisasie en sy regspan is besig om kommentaar op te stel teen die beoogde veranderings aan waterwetgewing wat gaan bepaal dat ondernemings wat watergebruiklisensies benodig in 75% swart eienaarskap moet wees. Die Departement van Water en Sanitasie sal slegs aansoeke om die onttrekking van grond- of oppervlakwater, die opgaar van water in ’n dam en die uitvoering van stroomvloeiverminderingsaktiwiteite (soos bosbou) te lisensieer, oorweeg indien die ondernemings aan sekere rassekwotas voldoen.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het nog ’n brief aan adv. Shamila Batohi, die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging gestuur oor die meer as agt jaar se vertragings van die Nasionale Vervolgingsgesag in die saak teen adv. Nomgcobo Jiba, voormalige Adjunk Nasionale Direkteur van Vervolging. Die eenheid het Batohi gewaarsku dat die versuim om te verduidelik waarom Jiba nie vervolg word nie die eenheid sal noodsaak om die hof te nader.

’n Brief is ook aan Ronald Lamola, minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, gestuur om duidelikheid te kry oor die regering se planne om amnestie te gee aan diegene wat skuldig bevind is aan die oortreding van inperkingsregulasies tydens die Covid-19-pandemie.

Die teenboelieveldtogspan en privaatvervolgingseenheid het op die eerste dag van die Nasionale Kinderbeskermingsweek ’n kuberboeliegids bekendgestel om bewusmaking te skep oor die gevare van tegnologie, sosiale media, seksskrywery (sexting) en kinderpornografie.

AfriForum het die Winterberg-plaaswag in Uitenhage gestig en ook ’n buurtwag in Midvaal.

Die Springs-tak wat die eendedam in stand hou deur onder meer die gras te sny en rommel op te tel, het ook die boorgatpomp wat onklaar geraak het, laat herstel. Dié boorgat stel die tak ook in staat om dit as ’n noodwaterpunt te gebruik in tye van nood.

In Lydenburg het die buurtwag vlak 2-vuurwapenopleiding aan buurtwaglede aangebied wat op praktiese aspekte gefokus het, asook gevorderde skietoefeninge en vuurwapenhantering. Lede van die Jeffreysbaai-buurtwag, asook lede van die Walker Drive- en Broadwood-buurtwagte in Port Elizabeth het ook opleiding in die gebruik van basiese handwapens voltooi.

Die Worcester-buurtwag het ’n man gehelp wat sy been gebreek het en ook hulp verleen by ’n ongelukstoneel. Een van die buurtwaglede wat byna deur ’n gewapende man gekaap is, het gehelp om dié verdagte vas te trek.

Die Sasolburg-tak het voortgegaan met hul goeie werk en 12,4 ha se gras is gesny. Hulle het ook nuwe ligte by die plaaslike polisiestasie se aanklagkantoor geïnstalleer.

Die Heilbron-tak kon danksy ’n vrywilliger vanuit die gemeenskap ’n kontrakteur aanstel om die dorp weekliks skoon te maak. Die tak het ook rugbyballe aan Hoërskool Heilbron se bulletjierugbyspan geborg.

AfriForum se gemeenskapsveiligheidafdeling en die AfriForum-buurtwagte van Wes-Moot, Centurion en Moreletapark het aan ’n veiligheidsaksie by die Voortrekkermonument deelgeneem tydens die herdenking van die Vredesverdrag van Vereeniging.

Soortgelyke plasings