water
|

AfriForum staan beoogde raskwotas vir watergebruik teen

Die burgerregteorganisasie AfriForum en sy regspan is besig om kommentaar saam te stel teen die beoogde veranderings aan waterwetgewing wat 75% swart eienaarskap van ondernemings wat ’n watergebruikslisensie benodig, sal vereis. Dit volg nadat die Departement van Water en Sanitasie (DWS) hersiene konsepregulasies oor watergebruiklisensies gepubliseer het.

Volgens die konsepregulasies sal aansoeke om die onttrekking van grond- of oppervlakwater, die opgaar van water in ’n dam en die uitvoering van stroomvloeiverminderingsaktiwiteite (soos bosbou) te lisensieer, voortaan slegs deur die DWS oorweeg word indien die onderneming wat daarvoor aansoek doen aan sekere rassekwotas voldoen. Die vereiste persentasie swart aandeelhouding sal oënskynlik bepaal word deur die jaarlikse volume water wat deur die gebruiker onttrek of geberg sal word of die grondoppervlak wat vir bosbou aangewend sal word.

Hierdie veranderings is nie goed deurdink nie en AfriForum is bekommerd dat ander belangrike vereistes in die aansoekproses ter wille van regstellende aksie oorskadu kan word.

“Die regering het ’n grondwetlike plig om die land se waterhulpbronne op ’n volhoubare wyse te bestuur en te beskerm. Terwyl Suid-Afrika ’n waterskaars land is, waterinfrastruktuur oor die land heen verkrummel en ons op ’n krisis afstuur, word transformasie as ’n rookskerm gebruik waaragter die DWS se mislukkings skuil,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake.

De Vaal sê verder aangesien staatsorgane en die mynbousektor van hierdie regulasies vrygestel word, die indruk geskep word dat die DWS ’n geteikende poging aanwend om die landbou- en bosbousektore se watergebruik onderhewig aan rassekwotas te stel.

AfriForum sal hierdie beoogde wysigings teenstaan en het reeds sy regspan opdrag gegee om die wettigheid daarvan te ondersoek.

Soortgelyke plasings