|

Gesoek: ’n Volkslied vir die Afrikanertuiste Orania!

Orania, die juweel en tuiskomplek van Afrikaners in die Noord-Kaap, is ryk aan simbole. Dink maar aan die Koeksister-monument, die Klein Reus met sy opgerolde moue, die Ora-geldeenheid en Orania-vlag. Dit maak dan nou net sin dat hierdie selfstandige gemeenskap en strewers na vryheid ook ’n eie volkslied moet hê.

Die soektog het in alle erns begin. Of jy nou ’n gebore digter, skrywer, taalstryder, taalliefhebber of iemand met ’n passie vir Afrikaans en die Afrikaner se saak is, dan is hierdie jou kans van ’n leeftyd.

Die Orania Kunsteraad (OKeR) het ’n kompetisie uitgeloof op soek na die beste lirieke en melodie vir die volkslied. “Ons wil verseker dat dit ’n lied van hoogstaande gehalte is en dat dit die toets van die tyd kan deurstaan.

“Dit moet nie ’n populêre of kommersiële lied wees wat net deur ’n kunstenaar opgeneem kan word nie, maar een wat in koor of samesang gesing kan word. Ons dink aan iets soos Die Stem en die Vrystaatse en Transvaalse volksliedere, Die lied van jong Suid-Afrika as voorbeelde,” sê Anje Boshoff, lid van die OKeR-bestuur.

Volgens Carel van den Berg, nog ’n bestuurslid van OKeR, spruit die behoefte aan ’n “splinternuwe” lied vir Orania uit die vernuwing, vooruitgang en ontwikkeling wat daar ook in die dorp en gemeenskap plaasvind. Gemeenskapsbetrokkenheid is immers eie aan Orania en waar die gemeenskap gereeld byeen kom, wil hulle ook hul eie lied kan saamsing.

Die bestuurslede meen die lied moet geïnspireer wees deur die vryheidsideaal wat dié gemeenskap en Afrikaners opnuut nastreef. Hul ingesteldheid op die toekoms om van dorp na stad te groei. En hulle daaglikse uitleef van hoop in ’n moeilike en geharde landskap soos die Karoo wat eie aan Orania en sy mense is. Daarom sal die liedskrywer sonder twyfel ook ’n aanvoeling vir die karakter van Orania moet hê waar selfstandigheid, selfdoen en eie arbeid byvoorbeeld uitgeleef word.

“Ons soek na ’n lied wat ook vergestalting aan die nuwe drome van Orania sal gee,” sê Boshoff.

Die sperdatums vir die kompetisie is: 1 Mei 2023 vir die lirieke-afdeling. 31 Mei 2023 word ’n kortlys van lirieke beskikbaar gemaak. Inskrywings vir die melodie-afdeling open 14 Augustus 2023 en sluit 6 April 2024. Die wenners in albei kategorieë sal op 10 Oktober 2024 aangewys word.

Die kortlys (lirieke en melodieë) sal ook deur Orania gebruik word om hierdie liedere-skatkis uit te brei.

Om in te skryf besoek www.volkslied.co.za

Hoe werk die kompetisie:

Algemeen:

  • Die kompetisie bestaan uit twee afdelings naamlik:

Afdeling: Lirieke (die woorde van die Orania-volkslied) – sluitingsdatum 1 Mei 2023.

Die kortlys van die lirieke word op 31 Mei 2023 bekendgemaak.

Afdeling: Melodie (die melodie van die Orania-volkslied) – Open 14 Augustus 2023 en sluit 6 April 2024.

Beide wenners sal op 10 Oktober 2024 bekendgemaak word.

  • Die organiseerder behou die reg voor om, indien daar na sy mening te min inskrywings ontvang is, of as die standaard van inskrywings nie hoog genoeg is nie, geen wenner aan te wys nie.
  • Die organiseerder behou die reg voor om die kompetisiereëls ter eniger tyd aan te pas of die kompetisie te kanselleer, as dit volgens sy oordeel nodig is of as gevolg van omstandighede buite sy beheer.
  • Wanneer daar geoordeel word dat ’n inskrywing nie die werk is van die persoon wat dit ingeskryf het nie en dat die persoon dus plagiaat pleeg, sal die inskrywing nie in ag geneem word nie en sal die persoon aan die relevante liggaam gerapporteer word.
  • Inwoners sowel as nie-inwoners kan aan die kompetisie deelneem.
  • Die lied mag nie voorheen (of vir die duur van die kompetisie) op enige sosiale media of enige ander media-platform gespeel of gedeel word nie.

Eiendomsreg:

  • Alle inskrywings (lirieke en melodie) word die eiendom van OKeR sodra dit ingeskryf word.
  • OKeR behou die reg voor om aanpassings of wysigings aan die melodie of die lirieke te maak.
  • Geen tantieme sal betaal word nie.

Inskrywings:

  • Persone wat vir die kompetisie inskryf, sal bevestiging van ontvangs vanaf die organiseerder ontvang. Indien geen bevestiging deur die inskrywer ontvang is nie, word die inskrywing geag nie ontvang te wees nie. Maak dus seker dat u sodanige bevestiging ontvang.
  • Inskrywings vir die Afdeling: Lirieke (woorde/gedig) sal in teksformaat ingedien word en die inskrywings vir die Afdeling: Melodie sal as bladmusiek ingedien word.
  • Inskrywings moet per e-pos na volkslied@orania.co.za gestuur word om as geldig geag te word.
  • Daar is geen beperking op die hoeveelheid inskrywings wat ’n persoon kan inskryf nie.

Inskrywingsfooie:

  • ’n Inskrywingsfooi van R250 per inskrywing sal gehef word. Indien ’n inskrywer dus beide lirieke en ’n melodie inskryf, geld ’n totale inskrywingsfooi van R500. Met die hef van ’n inskrywingsfooi word daar verseker dat die deelnemer ernstig is oor sy/haar bydrae en gehalte werk lewer.
  • Inskrywingsfooie sal gebruik word om administratiewe uitgawes (reis en verblyf van adviseurs, advertensie, webblad, wenner-aankondiging, ens.) te dek en sal ook deel uitmaak van die prysgeld.

Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting:

  • Die wenners se name en vanne sal bekend gemaak word.
  • Die kontakbesonderhede van inskrywers sal aan die Orania Beweging gegee word vir ledewerwingsdoeleindes.

Beoordeling:

  • ’n Paneel adviseurs oorweeg alle inskrywings (Charl-Pierre Naudé, Daniel Hugo, Gisela de Villiers en Cezarre Strydom).
  • Die inskrywings sal anoniem beoordeel word.
  • Hoewel die beoordelaars van die hulp van ’n paneel van kundiges gebruik sal maak, sal die finale besluit oor die wenners van die twee afdelings van die kompetisie steeds by OKeR se Volksliedkomitee (‘Die beoordelaars’) lê.

Die beoordelaarspaneel bestaan uit:

  • Een verteenwoordiger van Orania Aandeleblok
  • Een verteenwoordiger van Orania Verteenwoordigende Raad
  • Een verteenwoordiger van Orania Beweging
  • Drie verteenwoordigers van OKeR.
  • ’n Avstig-pionier
  • Beoordelaars se beslissing is finaal.

Pryse:

  • Die prysgeld vir elke afdeling van die kompetisie (te wete Afdeling: Lirieke (woorde/gedig) en Afdeling: Melodie) is R10 000. Indien ’n persoon se inskrywing beide lirieke en ’n melodie insluit, kan dit in aanmerking kom daarvoor om beide die afdelings te wen en dus R20 000 prysgeld te ontvang.
  • Geen prysgeld sal vir tweede of derde plekke gegee word nie.
  • Prysgeld sal elektronies oorbetaal word. Die wenner sal genooi word na ’n amptelike Volkslied-funksie in Orania.
  • Direkte familie van enige van die beoordelaars sal nie die kompetisie kan wen nie.

Soortgelyke plasings