|

Wees deel van Vetkoekpaleis II se ateljeegehoor

Sou jy jou voortande gegee het om destyds deel van die gehoor te wees toe die gewilde reeks Vetkoekpaleis opgeneem is? Moet dan nie die geleentheid mis om deel van die gehoor te wees wanneer AfriForumTV nuwe episodes van dié ou gewilde reeks vervaardig nie.

AfriForumTV, ’n gratis aanlyn stromingsplatform, het onlangs aangekondig dat hulle binnekort met die vervaardiging van ’n nuwe Vetkoekpaleis-reeks begin. Die nuwe reeks met 10 episodes sal teen Desember op dié platform beskikbaar wees.

Die AfriForum Teater-verhoog gaan in die alombekende Vetkoekpaleis-restaurant omskep word en die opnames vind van einde September tot in Oktober plaas.

In Vetkoekpaleis II is Willie Esterhuizen weer te sien as Worsie Visagie, Wynand van Vollenstee vertolk die karakter van Ruben Delport (Frik en Antie Poppie se seun) en Lizz Meiring is Worsie se vrou, Molly Visagie. Helene Truter, wat destyds die rol van Poppie Delport vertolk het, maak ook haar verskyning in die nuwe reeks. Danielle Retief (as Baba “Boudjies” Botha) en Lara Lourens (as Dolly) sal ook in die reeks te sien wees.

Kykers kan ’n splinternuwe, skreeusnaakse storielyn verwag – iets waarvoor Pieter en Willie Esterhuizen uiters bekend is.

Volgens Willie, wat ook die regisseur is, is dit ’n eer om weer episodes van Vetkoekpaleis voor ’n gehoor te kan opneem veral omdat hierdie soort opnames deesdae glad nie meer gedoen word nie.

“Om die opnames voor ’n gehoor te kan doen, is ‘magic’, dit verander die atmosfeer en maak dit heeltemal anders as in ’n leë ateljee. Ons kan nie wag nie,” sê hy.

Shinelle Brewis, koördineerder van AfriForumTV, sê die AfriForumTV-span sien baie uit om saam met hierdie legendes te werk aan ’n groot produksie en om dit beskikbaar te maak vir almal wat lief is vir Afrikaans.

Dit is baie opwindend dat hierdie reeks wat vermaak aan die hele gesin gaan verskaf, in AfriForum Teater vervaardig gaan word, sê Carien Bloem, bestuurder van dié teater.

’n Beperkte hoeveelheid kaartjies is reeds op AfriForum Teater se webblad te koop teen R200. Registreer gratis op AfriForumTV om Vetkoekpaleis II en ander programme te kyk of laai die selfoontoepassing af.

* Ouderdomsbeperking: 10 jaar.

Soortgelyke plasings