|

Warmbad-tak maak ingange na dorp skoon

AfriForum se Warmbad-tak het op 25 Maart die ingange na die dorp Bela-Bela vanaf die R516- en R101-pad, agter die munisipale gebou en die ou kliniek skoongemaak. Dié tak het ook die gras gesny en vullis in Grobler- en Robertsonstraat opgetel.

Hierdie tak het in September verlede jaar na afloop van die #VegEnBou-week parke in die Bela-Bela-area in stand begin hou en opgemerk dat die ingange na die dorp self ook opknapping nodig het. Daarom is die inisiatief van stapel gestuur om die gemeenskap bymekaar te bring en sodoende die ingange te begin opknap.

“Ons bedank graag ons borge wat ’n bydrae kon maak, of dit nou water is wat aangery is, of brandstof wat  vir die bossiekappers verskaf is,” sê Piet Botha, voorsitter van die Warmbad-tak.

“Ons sien uit om ’n verskil in ons dorp te maak. Aksies soos hierdie sal op die lang duur ’n groot impak maak. Ons hou steeds die parke in stand en sien die projek as ons eie,” sê Carin Botha, sekretaris van die Warmbad-tak.

Raak vandag nog by AfriForum se in Warmbad-tak betrokke: SMS “jou naam” na 45342 (R1) en maak ’n verskil.

Soortgelyke plasings