Gesondheidsregulasies verval om middernag

Die burgerregteorganisasie AfriForum herinner die publiek vandag daaraan dat die 30 dae-verlenging van die Covid-19-regulasies om middernag verstryk. Dit behels dat, tensy die regering nog een van sy laataand-aankondigings maak, niemand verplig sal word om van môre af maskers te dra of enige ander Covid-19-regulasies na te kom nie, aangesien geen sodanige regulasies sal bestaan of afgedwing kan word nie.

Die regering het aanvanklik die regulasies vir 30 dae verleng nadat die nasionale ramptoestand beëindig is om permanente regulasies in hierdie verband te implementeer.

Sou die regering voortgaan met sy planne om hierdie regulasies permanent in die wet te verskans, sal AfriForum in samewerking met die openbaredeelnameplatform DearSA regstappe doen. Die stappe sal teen die regering se voorgestelde regulasies wees wat ingevolge die Nasionale Gesondheidswet 61 van 2003 en die Wet op Internasionale Gesondheidsregulasies 28 van 1974 uitgereik is.

“AfriForum se hofstukke is reeds gefinaliseer en ons regspan staan gereed om hierdie wysigings onmiddellik te beveg, sou dit in werking tree. AfriForum sal litigeer om die verstommende en onregverdigbare regulasies te hersien,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se veldtogbestuurder.

AfriForum is van mening dat die voorgestelde regulasies ultra vires is en daarom buite die beoogde omvang van die wetgewing is. Dit was nooit die wetgewer se bedoeling dat hierdie wette sulke verreikende gevolge moet hê nie. Sommige van hierdie voorgestelde regulasies, soos gedwonge kwarantyn, is voorheen deur die hof nietig verklaar.

DearSA sê hy is ook bekommerd oor die regering se hantering van die openbaredeelnameproses rakende kommentaar op die nuwe voorgestelde wysigings aan die gesondheidswet.

“Die aantal kommentare wat ingedien is, soos aangehaal deur gesondheidsamptenare, is veel minder as dít wat DearSA ontvang en ingedien het namens openbare deelnemers. Meer as 95% van die 283 000 kommentare wat ons ontvang het, het hierdie regulasies in sy geheel verwerp. ’n Gedetailleerde verslag van al hierdie individuele kommentare sal binnekort aan die publiek beskikbaar gestel word,” sê Gideon Joubert, uitvoerende hoof van DearSA.

AfriForum het ook meer as 30 000 individuele kommentare ingedien wat die regulasies verwerp.

“Daar is geen rede waarom hierdie tydelike gesondheidsregulasies permanent gemaak moet word nie. Terwyl baie lande regoor die wêreld regulasies, soos die dra van maskers, laat vaar het, wil die Suid-Afrikaanse regering nou hierdie maatreëls permanent in die wet verskans. Dit is absoluut onlogies,” sluit Broodryk af.

Soortgelyke plasings