|

Kyk: Organisasies en ouers sterk gekant teen Bela-wet

Die laaste openbare raadplegingsessie in Gauteng, waartydens die publiek hul insette kon lewer oor die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die Bela-wetsontwerp), het op Vrydag 1 Maart in Soshanguve, Pretoria, plaasgevind. AfriForum, Solidariteit en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het dié verhoor bygewoon om hul teenkanting teen hierdie wetsontwerp te wys.

Die Bela-wet is vir lank reeds ’n kontroversiële wet wat die sentralisering van mag deur die staat oor skole sal bevorder en as’t ware die einde van skoolbeheerliggame gaan beteken.

“Deur die wysiging van artikels 5 en 6 van die Suid-Afrikaanse Skolewet maak die staat dit baie duidelik dat hy nie daarin belangstel dat beheerliggame skole bestuur nie en dat ouers deur hierdie beheerliggame nie besluite rakende hulle kinders se opvoeding en skole mag neem nie,” sê Johnell Prinsloo, onderwysnavorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI).

Indien hierdie wetsontwerp deurgevoer word, sal die finale besluit oor skole se toelatings- en taalbeleide by die provinsiale onderwyshoofde berus – ’n besluit wat tans deur die demokraties verkose beheerliggame geneem word.

Leon Fourie, uitvoerende hoof van SOS, het tydens sy spreekbeurt gesê dit is duidelik dat die regering nie ernstig is oor moedertaalonderrig nie. “Gemeenskappe moet self besluit oor die taal van onderrig in hul skole. Ná 1994 het ons openbare skole en nie staatskole nie wat beteken gemeenskappe het seggenskap oor wat die beste vir hulle skole is en nie die staat nie.”

Die wetsontwerp is reeds deur die parlementêre portefeuljekomitee vir basiese onderrig, asook die Nasionale Vergadering aanvaar en dien tans voor die Nasionale Raad van Provinsies. Indien dié raad die Bela-wet aanvaar, sal dit aan die president voorgelê word. Indien hy dit ook aanvaar en onderteken, gaan dit in werking gestel word.

AfriForum en die ander organisasies veg al sedert hierdie wetsontwerp se ontstaan daarteen en sal indien die wet bekragtig word die howe nader om dit tersyde te laat stel. Hulle het tydens Vrydag se geleentheid veral hulle kommer uitgespreek oor die bedreiging wat die Bela-wet vir Afrikaanse moedertaalonderrig inhou.

Die burgerregteorganisasie is verder van mening dat dit beter sal wees om die konsep te skrap en om van voor af oor die hersiening van die bestaande skolewetgewing te besin.

“Dit is nou tyd om weer nuut oor skolewetgewing te dink eerder as om verder tyd en koste aan hierdie ideologies gelaaide, ongrondwetlike en verouderde konsepwet te wy. Die huidige samewerkingsmodel van skoolgemeenskappe en owerhede moet beskerm word, asook alle aspekte wat moedertaalonderrig kan bevorder,” sê Alana Bailey, AfriForum se hoof vir Kultuursake.

Hierdie openbare raadplegingsessies gaan nog in die Oos-Kaap plaasvind en ouers en ander belanghebbendes word aangemoedig om www.stopbela.co.za te besoek om te sien waar hierdie sessies in hul omgewing plaasvind.

Soortgelyke plasings