Gesondheidsregulasies

Dr. Joe Phaahla, die minister van Gesondheid, het voorgestelde wysigings aan sekere regulasies kragtens die Wet op Nasionale Gesondheid 61 van 2003 en die Wet op Internasionale Gesondheidsregulasies 28 van 1974 gepubliseer. Die nuwe gesondheidsregulasies sal tot gevolg hê dat die tydelike gesondheidsmaatreëls wat die regering tydens die ramptoestand ingestel het, voortaan permanent toegepas word. AfriForum is ten sterkste en onomwonde gekant teen die wysiging van hierdie regulasies. Ons het op Woensdag 13 April ’n aanmaningsbrief ingedien wat ook dien as ons geskrewe kommentaar. Die aanmaningsbrief dien as ’n waarskuwing aan die regering dat AfriForum beplan om voort te gaan met regsaksie indien die regulasies ingestel word.

  • Daar sal verpligte mediese ondersoeke, afsondering en behandeling wees vir mense met aanmeldbare mediese toestande.  
  • Enigeen wat Suid-Afrika tydens ’n pandemie binnekom of verlaat en wat nie ’n inentingsertifikaat het nie, moet ’n negatiewe polimerase-kettingreaksie- (PCR-)toetsuitslag kan toon wat nie ouer as 72 uur is nie.   
  • Beperkings op nagwake en byeenkomste ná begrafnisse sal blywend wees, byvoorbeeld begrafnisse wat tot 100 mense beperk is.   
  • Binne- en buitenshuise byeenkomste sal beperk word tot 50% van die venue se kapasiteit wanneer inentingsertifikate verpligtend is vir toegang. Vir byeenkomste waar inentingsertifikate nie verpligtend is nie, sal daar ’n beperking van 1 000 mense vir binnenshuise en 2 000 mense vir buitenshuise byeenkomste geld.
  • Fisiese afstand sal ’n permanente regulasie word.
  • Gesigsmaskers sal verpligtend word vir binnenshuise byeenkomste, om openbare plekke binne te gaan en vir openbare vervoer.  
  • Handsaniteertoestelle sal permanent by ingange tot alle openbare plekke opgerig word.
  • Die nuwe regulasies sal ook die oorweging van ander beperkinge tussen verskillende staatsdepartemente toelaat, wat onder meer met aandklokreëls, inperkings, ekonomiese aktiwiteite en die verkoop van alkohol verband hou.   

AfriForum gaan begin om hofstukke gereed te kry vir moontlike regsaksie. Aangesien die inwerkingstelling van die voorgestelde gesondheidsregulasies nie deur ’n interdik verhoed kan word nie, sal AfriForum litigeer om die regulasies te hersien sodra dit van krag word. Daar is egter steeds tyd om voor die sperdatum van 5 Augustus op ons webtuiste aan die Departement van Gesondheid kommentaar te lewer oor die onwettige en irrasionele regulasies.

https://afriforum.co.za/wp-content/uploads/2022/04/Letter-and-written-representations-to-the-Minister-of-Health-dated-13-April-2022.pdf

Voeg jou stem by AfriForum se teenkanting van die vryheidinperkende, ongrondwetlike wysigings deur jou beswaar hier vir die Departement van Gesondheid te stuur:

Soortgelyke plasings