|

Gewilde kunstenaars in Februarie op die AfriForum Teater-verhoog

AfriForum Teater het ’n propvolprogram in Februarie en teatergangers kan uitsien na ’n verskeidenheid kunstenaars en produksies.

Volgens Carien Bloem, hoof van Kommunikasie en Openbare skakeling by AfriForum Teater, is hulle opgewonde oor die heerlike program vir Februarie. “Ons sien veral uit na Bernice West se akoestiese vertoning en Bobby van Jaarsveld se optrede by die teater.”

Die kleinspan kan op 3 Februarie uitsien na Kok en die lawwe rot 2.0 waartydens Kotie Kok oorval is met bestellings vir die jaarlikse Vlinder Flapper-fees. Terwyl hy besig is om al die bestanddele vir die lekkernye en gebak uit te pak, kom hy tot sy skok agter dat iemand gaatjies in die suikersak geëet het. Hierdie vertoning met sy opvoedkundige tema oor streshantering bied vermaak vir die hele gesin.

Joshua na die Reën kuier weer op 7 Februarie op die AfriForum Teater-verhoog en hy gaan die gehoor met ’n samestelling van musiek vanaf sy vier albums vermaak.

As jy nog nie planne vir Valentynsdag gemaak het nie, klop gerus by die teater aan. Volgens Bloem gaan Jakkie Louw en Charlize Berg se vertoning Jakkals en Berg betowerend wees.  

Hierdie vertoning volg ná die jarelange sukses van Louw en Kevin Leo se produksie genaamd Jakkals en Leo. Jakkals en Berg bestaan uit pragtige duette soos “Liedjie vir jou”, “Shallow”, “Bella Musica” en nog vele meer. Hierdie vertoning begin om 19:00 en ’n ete kan ook vooraf by Pronk (die restaurant in die teater) geniet word om hierdie Valentynsdag spesiaal te maak.

Aanhangers van Bernice West kan ook uitsien na haar akoestiese vertoning Die eenvoud van drome. West gaan op 16 Februarie die stories agter die liedjies met die gehoor deel.

’n Tweedagwerkswinkel oor teatertegnologie word op 21 en 22 Februarie by die teater aangebied in samewerking met die Artéma Instituut vir Kunstebestuur van die Noordwes-Universiteit. Hierdie werkswinkel fokus veral op gr. 11- en gr. 12-leerders, onderwysers wat skoolproduksies moet aanbied en studente wat passievol is oor teater en die werke daarvan.

Verder word Rodriguez Tribute, ’n huldeblykvertoning, op 23 Februarie gehou met die musiek van die legendariese Sixto Rodriguez. Dan maak die gewilde Bobby van Jaarsveld en sy orkes ook op 24 Februarie ’n draai op die AfriForum Teater-verhoog.

Gareth James beloof ook om teatergangers te vermaak met liedjies soos “Bad Moon Rising”, “Proud Mary” en “Living Next Door to Alice” tydens die vertoning A night of timeless hits: A tribute to Creedence Clearwater Revival and Smokie.

Februarie se program by die AfriForum Teater word afgesluit met Soldate se Rubicons waartydens Callie Roos in gesprek tree met Johan Wessels (die skepper van Soldate se Rubicons), Roland de Vries en Faan Roets. Hierdie soldate wat verskeie Rubicons moes oorsteek waarvan een die Bosoorlog was, gaan oor die verlede, lesse geleer en die toekoms gesels.

“Die teater sien ook uit om vanjaar drie musiekblyspele aan te bied. Die Kaplyn is terug op die planke, Pinocchio, ’n musikale komedie is in Julie by die teater en teatergangers kan uitsien na ’n derde blyspel wat op hierdie stadium nog ’n verrassing is,” sê Bloem.

Hou gerus AfriForum Teater se webblad dop om te sien watter opwindende vertonings en produksies aangebied word.

Soortgelyke plasings