AfriForum maak skenking aan Solidariteit Beweging se eerste netwerkskool

Die burgerregteorganisasie AfriForum se Kaapse kantoor het op 17 Januarie ’n televisie aan die Vredenheim Akademie geskenk. Dié onafhanklike kleuterskool is geleë op een van die oudste wynplase in die Stellenbosch-distrik en is gestig deur die huidige eienaars van dié plaas, die Bezuidenhout-familie, en word ondersteun deur die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS).

Vredenheim Akademie se kleuterskool vorm die eerste fase in die vestiging van ’n volwaardige SOS-netwerkskool wat uiteindelik skoolopleiding tot matriek gaan bied. Afrikaanse moedertaalonderrig is ’n belangrike komponent van dié skool, juis aangesien talle navorsing reeds bevind het dat moedertaalonderrig leeruitkomste en akademiese prestasie verbeter. SOS-netwerkskole word sonder winsoogmerk bedryf en ontvang professionele onderwyseropleiding, besigheidsplanne en gehalteversekering van die SOS.

Volgens Elzabé en Coenraad Bezuidenhout, medestigters van die akademie, lê moedertaalonderrig en Christenskap die Bezuidenhout-familie na aan die hart. Boonop neem die aantal leerders in Stellenbosch se Afrikaanse skole tans op ’n onvolhoubare wyse toe, wat die vestiging van Vredenheim Akademie nou ’n saak van dringendheid maak.

“Net soos wat die Solidariteit Beweging se ander opleidingsinstellings, Sol-Tech en Akademia, ’n klein begin gehad het, so is dit ook met Vredenheim Akademie, maar groot dinge wag op die horison. Die Solidariteit Beweging se onderwysstrategie sal help toesien dat toegang tot Afrikaanse skoolonderrig van uitmuntende gehalte op ’n volhoubare wyse en met ’n gesonde waarde-oordrag in alle Afrikaanse gemeenskappe gebied sal kan word,” verduidelik Bernard Pieters, bestuurder by AfriForum se Kaapse kantoor. “AfriForum ondersteun hierdie inisiatief en het daarom besluit om ’n televisie te skenk sodat die kleuters van Vredenheim Akademie AfriForum TV se kleurvolle en opvoedkundige kinderprogramme kan kyk.”

Besoek gerus www.vredenheimakademie.co.za vir meer inligting oor hierdie nuwe inisiatief.

Soortgelyke plasings