|

Groot getalle ruk in KwaZulu-Natal en Noordwes op vir onteieningsvergaderings

Ver meer as ’n duisend mense het vandag die openbare vergaderings oor die eiendomsklousule (artikel 25) in die Grondwet in Vryheid en Mahikeng bygewoon.

Afvaardigings van AfriForum was ook daar om lede en ondersteuners se standpunte oor te dra. Voorleggings teen onteiening sonder vergoeding kon nie ingehandig word nie, maar AfriForum gaan probeer om dit môre by ander vergaderings in te dien.

Die verhore word deur die parlement se gesamentlike grondwetlike hersieningskomitee gelei.

Barend Uys, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir gemeenskapsake, het in sy voorlegging gesê hy is teen die wysiging van artikel 25 omdat die Bybel mense uitdruklik verbied om te steel. Hy het gesê hy Barend Petrus Uys is die ses geslag wat grond in die KwaZulu-Natal besit. Daar is ten volle vir sy grond betaal. Met geld en met bloed. Sy oupagrootjie het sonder ’n pa en oupa grootgeword en hulle name kan gevind word op die Anglo-Boereoorlog monument in Volksrust.

Hy het gesê sy familiegrafte, wat wydverspreid op plase in die Utrecht-omgewing voorkom, herinner hom aan die opofferings wat gemaak is en wat sy plig is.

Volgens Uys is daar baie mense wat die geskiedenis vir kort termyn politieke gewin verdraai. “Ek en my kinders kan en sal egter nooit vergeet nie.”

Hy het ook verwys na Petrus Lafras Uys en ’n klein groepie wat in 1834 met koning Dingaan kaSenzagakhona Zulu oor grond onderhandel het. Hulle het nie met ’n oormag gekom nie en ook nie grond gesteel nie. Nog ’n voorsaat Andries Marthinus Johannes Laas was op 21 Mei 1884 teenwoordig en het koning Dinizulu kaCetshwayo gesalf toe hy as Zoeloe-koning ingehuldig is. Vryheid was die hoofstad van die “Nuwe Republiek” en dit is op die grond begin wat boere van koning Dinizulu gekry het nadat hulle hom gehelp het om sy plek as koning in te neem.

Uys het gepleit dat daar opgehou moet word om grondeienaars en boere te verontmenslik. “Ons is mense van vlees en bloed. As jy ’n boer se grond wegvat neem jy sy vermoë om vir sy kinders te sorg weg.”

Uys het gesê dit is verkeerd om te lieg. Hy het ’n beroep op politici en amptenare gedoen om op te hou lieg oor grondbesit.

In Mahikeng het Corné Cronjé, streekhoof van sentraalstreek vir AfriForum, gesê AfriForum is teen die voorgestelde wysiging van die Grondwet. Hy het gesê die organisasie is teen onteiening sonder vergoeding en die mosie daarvoor berus op verdraaiings van die geskiedenis en mense word onder ’n wanindruk gebring.

“Die voorgestelde wysiging raak nie net grond nie, maar alle eiendom. Enige wegdoen met eiendomsreg sonder vergoeding is ’n baie ernstige ingryping in die regte van ’n individu. Eiendomsreg is ’n fundamentele mensereg en word deur talle internasionale konvensies erken.”

Hy het gesê grondeienaars het ’n grondwetlike reg om vergoed te word. “Onteiening sonder vergoeding is ’n poging deur die regering om sy mislukkings te verbloem. Kyk na die protesoptogte die laaste maande in Noordwes. Eiendomsreg is ’n voorvereiste vir ekonomiese groei en beleggingsekerheid. Onteiening sonder vergoeding het die potensiaal om die ekonomie te vernietig,” het hy gesê.

Soortgelyke plasings