Groter Pretoria-buurtwagte ontvang opleiding


AfriForum het op 13 en 14 April 2019 Projek Nehemia-opleiding aan lede van die Groter Pretoria-omgewing aangebied. Projek Nehemia is ’n strategie teen geweldsmisdaad.

Die Groter Pretoria-buurtwagte en die bevelsgroep van Projek Nehemia het tydens dié opleiding verskeie veiligheidsmodules behandel met die doel om misdaad in hierdie omgewing te bekamp, en gemeenskapslede by te staan en weerbaar te maak. Die modules het bevel-en-beheer, gebiedsbeskerming, regsaspekte, huis-en-haardbeskerming, die bedryf van inligting en slagofferondersteuning ingesluit.

“Ons moet self verantwoordelikheid vir ons gemeenskappe se veiligheid aanvaar. As ons nie gaan saamwerk nie, gaan dit nie ’n sukses wees nie. Ons gemeenskappe moet hulself proaktief beveilig en dít is juis wat Projek Nehemia doen,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria.

“Opleiding is ’n belangrike komponent van verskerpte gemeenskapsintelligensieprojekte,” voeg De Klerk by. Dit is die begin van verskeie opleidingsessies wat vir Pretoria beoog word.

“Ons moedig gemeenskappe aan om by veiligheidsinstellings betrokke te raak en hul eie veiligheid te prioritiseer. Opleiding in verskillende vakgebiede kan gemeenskappe beter in staat stel om binne die raamwerk van die wet op te tree en hul gemeenskappe weerbaar te maak,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidshoof vir die Noordstreek.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke: SMS “Buurtwag” na 45341 (R1).

Soortgelyke plasings