|

Help saam met AfriForum om Burgersdorp se NG Kerk te restoureer!

Die Oos-Kaapse juweel Burgersdorp het in 1846 op die plaas Klipfontein tot stand gekom met die stigting van die eerste NG-gemeente daar. Die eerste kerkgebou is op 26 Mei 1849 in gebruik geneem.

Naas dié historiese gebou, huisves die dorp nog gedenkwaardighede soos die Nederlandse Taalmonument, ’n blokhuis uit die Anglo-Boereoorlog en die “nuwe” NG Kerk, wat in 1996 tot provinsiale erfenisbaken verklaar is. Hierdie sandsteen kerkgebou is deur die beroemde William Henry Ford ontwerp en op 13 Desember 1913 ingewy.

In die boek, Die NG Kerk – ons erfenis, word dit as een van die mooiste kerke in die land beskryf. In 2020 het ’n brand ernstige skade aan veral die koepel daarvan aangerig. Binne is waterskade gely.

Die gemeente werk hard om die kerk te herstel in die geloof dat die fondse vir die projek met God se hulp gevind sal word. AfriForum dra tot die restourasiefonds by en doen ’n beroep op ons lede om ook skenkings te maak.

’n Spesiale bankrekening is deur die kerkraad geopen waarin donasies gedeponeer kan word. Die besonderhede is: “NGK Burgersdorp Fonds”, FNB, rekeningnommer 63024501876, takkode 210320.

Die kerkraad, ramp- en boukomitee betuig by voorbaat opregte dank vir enige ondersteuning. Hulle doelwit is dat hierdie erfenisskat in die Afrikaner se kerkgeskiedenis op 13 Desember 2023 in gebruik geneem sal word – 110 jaar ná die inwyding daarvan.

Soortgelyke plasings