|

Hoekom dit nie help om vir munisipaliteite te wag nie

Mense argumenteer gereeld dat hulle nie by probleme in hul dorpe sal ingryp nie omdat hulle reeds astronomies baie belasting betaal en dienste en instandhouding van infrastruktuur die plig en verantwoordelikheid van munisipaliteite en amptenare is.

Dit is inderdaad waar dat munisipaliteite ’n grondwetlike verpligting het om dienste aan landsburgers te lewer. Die realiteit is egter dat ons weens ’n veelheid van redes op die oomblik nie veel van munisipaliteite kan verwag nie. Munisipaliteite het nie die vermoë om basiese dienste te lewer nie. Daar is nie kundigheid of die politieke wil om bestaande infrastruktuur in stand te hou nie. Korrupsie en misdaad kom ook wyd voor. Die situasie is eenvoudig haglik en uiters kommerwekkend.

Die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (Cogta) het verlede jaar bekendgemaak dat 43 munisipaliteite ’n finansiële krisis beleef en ’n verdere honderd op die rand van finansiële uitdagings is. Volgens Cogta se barometer is 64 munisipaliteite heeltemal disfunksioneel, 111 is op die rand van algehele ineenstorting en slegs 16 uit die 257 is stabiel.

Nog ’n ontstellende syfer is dat munisipaliteite slegs 2% van begrotings aan onderhoud spandeer, terwyl die riglyn 8% is. Dit is nou waar munisipaliteite nie geheel en al bankrot is nie.

Ons kan ook van die standpunt uitgaan dat inwoners en landsburgers maar moet wag totdat provinsiale of die nasionale regering by munisipaliteite ingryp. Dít kan helaas nog baie baie lank neem as ’n mens kyk na uitsprake wat byvoorbeeld in die Koster-saak gemaak is en wat steeds voortsleep.

AfriForum-takke en gemeenskappe regoor die land het nie tyd om vir die munisipaliteit te wag om dienste te lewer nie en spring self in.

Dit is in die lig van hierdie omstandighede en probleme dat AfriForum ’n tweeledige strategie volg. In die eerste plek word plaaslike regerings aanspreeklik gehou as hulle versuim om dienste te lewer of hul plig na te kom. Hofgedinge word begin en die jongste voorbeeld is waar AfriForum en die Mafube Besigheidsforum die hof genader het om pres. Cyril Ramaphosa en 16 ander respondente te dwing om toe te sien dat dienslewering in Frankfort en omliggende dorpe herstel word.

Die applikante vra dat die Mafube Plaaslike Munisipaliteit moet ontbind en dat die nasionale regering moet ingryp by die gemors en dat gereeld terugvoer gegee moet word oor vordering in die verband. Voorts vra hulle dat hulle die administrasie en dienslewering tydelik moet oorneem totdat bewys gelewer is dat dienslewering herstel is. Die geld hiervoor moet uit die koffers van die munisipaliteit of die nasionale tesourie kom.

AfriForum en die Mafube Besigheidsforum in Frankfort nader die hof om ‘n verandering in hul dorp te sien.

Terwyl daar gewag word op ’n waterskeidingsuitspraak om hierdie vorm van ingryping moontlik te maak, is die enigste oplossing selfdoen-inisiatiewe binne die raamwerk van die wet ten einde onafhanklikheid van die staat se dienslewering te bevorder en langtermynoplossings te vind.

Derduisende inwoners van klein dorpies is reeds op gereelde grondslag met selfdoenaksies besig om slaggate in paaie te vul, groenstroke, parke en ingange skoon te maak, gras en bome te sny, vullis te verwyder en watertenks vir gemeenskappe op te rig.

Hulle het lankal besef dat alles rondom hulle heeltemal in duie sal stort indien hulle nie self begin moue oprol en aan die werk spring nie. Die uitgangspunt hier is dat elke klein poging en aksie tog ’n verskil maak eerder as om te sit en te wag tot ’n dorp tot op die grond afgebreek is.

Soortgelyke plasings