|

AfriForum Jeug veg vir studente regte by NWU

AfriForum Jeug was vandag in Potchefstroom om Shaun Christie, ’n student van die Noordwes-Universiteit (NWU), te ondersteun tydens gesprek met verteenwoordigers van die universiteit waar daar ondersoek ingestel is na die gebeure wat verlede week daartoe gelei het dat hy voorlopig geskors is. Die skorsing is ná afloop van die gesprek gedeeltelik opgehef. AfriForum Jeug beskou dié besluit as ’n oorwinning.

Christie het na bewering tydens ’n verpligte inligtingsessie vir eerstejaarstudente beswaar gemaak teen die inhoud van ’n sessie waar onder meer LBGTQIA+-regte (soos aangebied deur ’n spesifieke studentevereniging) bespreek is en dit terwyl hy meen studente nie veilig voel om hul Christenskap by dié universiteit uit te leef nie. In ’n video wat op sosiale media versprei is, kan gesien word hoe Christie tydens die sessie opstaan, na voor stap en die studente toespreek waarna hy die sessie verlaat. Verskeie studente het uit hul eie oortuiging ook die sessie verlaat.

“Hierdie vereniging was die enigste een wat tydens die sessie hul standpunt kon stel. Geen ander vereniging is dieselfde geleentheid gegun nie. Dis ’n duidelike aanduiding van die narratief wat die bestuur van die NWU wil dryf. Die studente wat soos Christie die sessie verlaat het, wys daarop dat hulle ook nie daarmee saamstem dat hulle daar moes sit en na dié inligting luister nie,” sê Ronald Peters, bestuurder van AfriForum Jeug.

“Christie is twee dae later tydelik geskors hangend ’n aantal ondersoeke. Hy het AfriForum Jeug genader om hom te help. Hierna het ons na verskillende opsies gekyk om hom tydens die ondersoek en die proses wat volg, te ondersteun. AfriForum Jeug en ’n groep van omtrent 100 besorgde studente het besluit om Christie vandag tydens die ondersoek te ondersteun. Dis belangrik dat die gemeenskap ook Christie ondersteun, aangesien hy bereid was om te sê wat niemand anders wou sê nie.”

AfriForum Jeug en omtrent 100 studente het opgedaag om Shaun Christie by NWU te ondersteun.

Christie sal nou dat die skorsing gedeeltelik opgehef is, kan klasse bywoon en toetse skryf, maar hy sal nie aan ander geleenthede by die universiteit kan deelneem nie.

Hy het vandag se gesprek met verteenwoordigers van die universiteit as positief beskryf en studente bedank wat opgedaag het om hom te ondersteun.

“Ons is nie téén enigiemand nie, ons is vír iets. Ons is vír vryheid en vryheid van spraak. Mense moet kan glo waarin hulle wil glo sonder dat iets op hulle afgedwing word. Ek is ongelooflik dankbaar vir AfriForum se ondersteuning. Hulle gee regtig om en nie net vir my nie, maar vir die land in geheel,” sê Christie.

Dis die tweede agtereenvolgende jaar wat daar tydens eerstejaarsoriëntering by NWU opspraak verwek is. Verlede jaar is sekere studente na bewering op grond van ras verhoed om ’n verwelkomingseremonie by te woon. Die toenmalige sekretaris van die kampusstudenteraad (KSR) het dié besluit bevraagteken, maar is uiteindelik onregmatig afgedank omdat sy, volgens die voorsitter van die KSR, inligting uitgelek het en nie haar pligte as KSR-lid nagekom het nie. AfriForum Jeug het uiteindelik by die saak betrokke geraak en help toesien dat sy weer in haar posisie op die KSR aangestel is.

Peters sê AfriForum se standpunt oor Christie se saak is eenvoudig. “Elke individu moet die vryheid van assosiasie en die vryheid van spraak hê. Dis duidelik dat die NWU-bestuur ’n sekere narratief in studente se kele probeer afdwing. Christie het hierteen opgestaan en die bestuur van die universiteit het hom probeer stilmaak deur hom te skors. Dis tyd dat studente hul stemme terugvat en die universiteit se bestuur laat besef hulle sal nie stilbly nie.”

Soortgelyke plasings