|

AfriForum se Naboomspruit-tak pak Ruk Naboom Reg-projek aan

Die AfriForum-tak in Naboomspruit het op 26 Januarie saam met die Ruk Naboom Reg-projekspan en lede van die gemeenskap die tuine by die plaaslike polisiekantoor opgeknap.

Die Ruk Naboom Reg-projek is nie verbonde aan ’n spesifieke politieke party, kerk of organisasie nie. Dit is ’n gemeenskapsprojek wat in Oktober 2021 begin is en deur die gemeenskap gedryf word.

Hierdie projek het ten doel om Naboomspruit weer die pragdorp te maak wat dit eens was. Die projek fokus daarop om slaggate te vul en verkeerstrepe te verf, openbare tuine op te knap, sypaadjies en parke skoon te maak en boomtakke te snoei.

Hierdie projek word finansier deur geldelike donasies van inwoners en skenkings van ondernemings in die vorm van toerusting en materiale. Die plaaslike Helpende Hand-tak voorsien ook gedurende die week water en koeldrank aan die werkers.

Daar is ’n komitee vanuit die gemeenskap gestig wat hierdie projek dryf en bestuur. Die komiteelede is: Antionette Wagener, André van der Schyff en Karin Briel. Die finansies word deur die sakekamer bestuur en hulle stel dan die nodige fondse aan die komitee beskikbaar om die nodige aankope te doen en betalings te maak.

“AfriForum is ’n gemeenskapsorganisasie en die AfriForum-tak in Naboomspruit sal aanhou om hierdie inisiatief van die sakekamer en gemeenskap te ondersteun. Dit is vir ons ’n voorreg om deur hierdie projek ’n veilige en netjiese omgewing te skep,” sê Lucas Bornman, ondervoorsitter van die AfriForum-tak in Naboomspruit.

“Ons betrokkenheid by hierdie projek vorm deel van AfriForum se selfdoenstrategie, dit is goed om te sien hoe die gemeenskap moue oprol en dinge gedoen kry,” sê Magdel Jansen Van Vuuren, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo.

Raak betrokke by die AfriForum-tak in Naboomspruit: SMS “Jou naam” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings