| |

Hoera! Centurion-tak wen Noordstreek-tak van die jaar-toekenning!

AfriForum se Centurion-tak is behoorlik bedrywig met ’n verskeidenheid projekte wat op die ou end gesorg het dat hulle met die gesogte Noordstreek-tak van die jaar-toekenning kon wegstap op AfriForum se nasionale kongres. Daarbenewens het dié tak ook, danksy hul herwinningsprojek, die toekenning vir Volhoubare tak van die jaar gewen.

Dié tak het 33 herwinningshokke en vyf toegewyde werknemers wat daagliks rommel herwin. Hierdie herwinningsprojek sorg vir ’n groot deel van die tak se inkomste en beklemtoon die organisasie se selfdoen ingesteldheid. Sedert die oprig van die herwinningshokke het dié tak reeds meer as 98 ton items sorteer.

Verder het die Centurion-tak ook 15 asblikke in parke geplaas, 1 970 sakke vol vullis verwyder, 257 400 m2  se gras gesny en 25 ton vullis weggery. Die tak het ook tydens die vullisverwyderingstaking 1 000 huise se asblikke leeg gemaak.

Die Centurion-buurtwag het ook klaarblyklik nie ’n bang haar op hul kop nie en het in hierdie tyd 450 patrollies gery vir ’n totaal van 63 104 km en 9 070 ure (sowat 1 133 werksdae).

“Ek wil graag elke lid wat maandeliks ’n bydra maak tot die tak se sukses bedank vir hulle vrygewigheid en dat hulle glo in dit wat ons doen. In besonder wil ek elke projekleier, tak-, buurtwag-, buurtspan- en herwinningslid bedank wat hard werk om te help dat ons ’n verskil in die gemeenskap kan maak. Sonder julle sou dit onmoontlik gewees het,” sê André de Bruyn, voorsitter van AfriForum se Centurion-tak.

Volgens Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir groter Pretoria-Suid, is dié toekennings welverdiend. “Hierdie toekennings is ’n tasbare bewys van die suksesse wat gemeenskappe wat organiseer kan behaal. Die Centurion-tak gryp uitdagings met albei hande aan sonder om te huiwer en dít skep hoop in ons gemeenskappe.”

Soortgelyke plasings