|

GDO na dood van Solly Nengwane begin vroeg in 2022

Die geregtelike doodsondersoek na die dood van Solomon (Solly) Nengwane is vandag in die landdroshof in Brits op die hofrol geplaas vir die week van 28 Februarie 2022. Dit volg nadat die voorsittende beampte in die geregtelike doodsondersoek (GDO) onlangs oorlede is. Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, en adv. Phyllis Vorster, ’n aanklaer by dié eenheid, tree namens Nengwane se familie in hierdie ondersoek op. Die persone van belang is sewe senior polisiebeamptes onder wie se toesig die slagoffer in 2006 in aanhouding oorlede is.

Slegs vyf van die sewe het vandag in die hof verskyn, ondanks die feit dat hulle almal gedagvaar is om teenwoordig te wees en ook op ’n vorige hofdatum versuim het om op te daag. (Drie van dié vyf persone was ook ’n halfuur laat vir hofverrigtinge.) Nel het geargumenteer dat die twee afwesige persone (insluitend genl.-maj. Ntebo Jan Mabula en kol. Ishmail Dawood) tegnies gearresteer moet word omdat hul afwesigheid ’n misdaad daarstel ingevolge die Strafproseswet 51 van 1977. Nel het egter aangevoer dat die lasbriewe vir hul arrestasie oorgehou moet word tot Februarie 2022 wanneer die GDO begin.

Die Nasionale Vervolgingsgesag se aanklaer is die getuienisleier in hierdie GDO. Die regsverteenwoordiger van die persone van belang het egter aangevoer dat dit blyk dat die privaatvervolgingseenheid die ondersoek oorneem. Nel het in die hof geantwoord dat die eenheid alles in hul vermoë sal doen om te verseker dat geregtigheid geskied. Die privaatvervolgingseenheid sal toesien dat al die relevante getuies in hierdie GDO geroep word, insluitend Robert McBride en genl. Johan Booysen. Die persone van belang se regsverteenwoordiger het vroeër vanjaar gedreig om ’n aansoek te bring dat Nel nié namens die Nengwane-familie mag optree nie omdat Mabula die beampte is wat Nel in 2008 gearresteer het tydens van die vervolging van Jackie Selebi.

Nengwane se familie het die privaatvervolgingseenheid genader om hulp omdat niemand ná 15 jaar vir sy dood aanspreeklik gehou word nie. Nengwane is een van vyf persone wat in 2006 gearresteer en deur die polisie ondervra is nadat miljoene Amerikaanse dollar, asook dwelms uit ’n Benoni-polisiestasie gesteel is. Die sewe persone van belang in die GDO was destyds deel van die taakspan wat saamgestel is om die saak te ondersoek. Die gesteelde geld en dwelms is egter nooit gevind nie en verskeie getuies in hierdie saak het luidens mediaberigte onder verdagte omstandighede verdwyn. Nengwane is op 6 Junie 2006 oorlede nadat hy deur die persone van belang gearresteer is. Die weergawe is dat die polisie vir Nengwane na die Dr. George Mukhari Hospitaal geneem het en dat hy reeds geruime tyd oorlede was toe hulle by die hospitaal aangekom het. Die polisie het sy liggaam by die hospitaal gelos.

“Hierdie saak kan nie aanhou sloer as gevolg van persone wat gewaarsku word om by die hof te wees en dan bloot versuim om op te daag nie. Geregtigheid moet geskied vir Nengwane se familie. Dit is waarom ons betrokkenheid by hierdie GDO so belangrik is – ons kan nie toelaat dat sommige persone anders behandel word deur die regstelsel bloot omdat hulle polisiebeamptes is of was nie,” sê Wico Swanepoel, ’n prokureur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Soortgelyke plasings