|

Ontwikkeling van Stroomop Petroleumhulpbronne: Gebrekkige wetsontwerp moet gestuit word

Die gebrek aan deursigtigheid en onbeperkte magte wat aan die minister van Minerale Hulpbronne en Energie toegeken sal word indien die Wetsontwerp op die Ontwikkeling van Stroomop Petroleumhulpbronne deur die parlement aanvaar sou word, is rede tot ernstige kommer.

Daar word byvoorbeeld beoog om ’n 20% aandeel in alle petroleumregte aan die staat toe te deel, wat die deur wawyd oopmaak vir korrupsie. Insgelyks sal die minister die onbeperkte mag hê om sekere areas vir petroleum ontwikkeling uitsluitlik vir swart beleggers te reserveer, met niks wat in sy pad staan om hierdie diskresie tot voordeel van sy kaders toe te pas nie.

Dié wetsontwerp beoog om die ontwikkeling van die stroomop olie- en gasindustrie uit die omvang van die bestaande Wet op die Ontwikkeling van Minerale- en Petroleumhulpbronne (Wet 28 van 2002) te verwyder en afsonderlik van ander mynbou aktiwiteite te reguleer. Hoewel hierdie regulatoriese skeiding op sigself nie noodwendig ’n probleem is nie, sal die wetsontwerp volgens die burgerregteorganisasie AfriForum veel meer nagevolge hê as om net verdere beleidsonsekerheid in die minerale- en energiesektor te skep. Daardeur sal beleggersvertroue, wat reeds ’n ongekende laagtepunt bereik het, bloot verder verswak.

“Dit is nadelig vir die ontwikkeling van die land se petroleumhulpbronne en knou die sukkelende Suid-Afrikaanse ekonomie verder. Uiteindelik gaan die meerderheid van die land se inwoners die onskuldige slagoffers van die regering se gierigheid wees,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake.

AfriForum spreek al sedert die eerste verskyning van hierdie wetsontwerp in 2019 sy teenkanting daarteen uit en het vandag kommentaar op die huidige vorm van die wetsontwerp, wat reeds deur die Nasionale Vergadering goedgekeur is, ingedien. Kommentare moet nou deur Nasionale Raad van Provinsies oorweeg word.

Soortgelyke plasings