| | |

HOF BESLIS STRANDE BLY GESLUIT

Die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria het vandag die mosie van die hand gewys om COVID-19 Regulasie 69(12)(a), (b), (c) en (d) ongrondwetlik te laat verklaar. Hierdie regulasie bepaal onder meer dat alle strande in die Oos-Kaap, asook aan die Tuinroete van 16 Desember tot 3 Januarie gesluit sal wees. Dit bepaal ook dat alle strande in KwaZulu-Natal op 16, 25, 26 en 31 Desember, asook 1 tot 3 Januarie gesluit sal wees.

AfriForum se regspan is van mening dat alhoewel die dringende aansoek nie geslaag het nie, dit belangrik was om die kollig te plaas op die rampspoedige gevolge wat die sluiting van strande vir sakeondernemings veroorsaak het. “Dit is ook belangrik om daarop te let dat die hof se uitspraak nie die regering se optrede kwytskeld nie, maar bloot bevind het dat die sluiting van strande wel ’n geldige besluit deur die regering was,” sê Daniël Eloff, AfriForum se regsverteenwoordiger.

“Alhoewel AfriForum teleurgesteld is met die uitspraak, wil die organisasie die publiek aanmoedig om steeds hul gunstelingvakansiebestemmings te besoek, asook om plaaslike sakeondernemings te ondersteun om dié kusdorpe se finansiële las te verlig. Hierdie sakeondernemings gaan heel waarskynlik nou geweldige, en in baie gevalle onherstelbare skade ly as gevolg van vakansiegangers wat hul vakansieplanne kanselleer omdat die strande gesluit is,” sê Monique Taute, AfriForum se hoof van Veldtogte.

“Volgens ’n wetenskaplike studie is die kans om COVID-19 in die opelug op te doen sowat 1%. AfriForum hou daarom vol dat om strande te besoek ’n vorm van vermaak is wat in die opelug plaasvind en mense blootstel aan die son wat bydra tot ’n gesonde immuunstelsel. Die alternatief is dat mense hulself tot plekke soos winkelsentrums en restaurante gaan wend wat ’n baie hoër risiko inhou vir die verspreiding van die virus,” sluit Taute af.

Ondersteun sakeondernemings by jou vakansiebestemming. Klik hier om die gelyste ondernemings in jou dorp te sien of om jou onderneming gratis te lys.

Soortgelyke plasings